1% #payingmilkforward
Van links is Minister Ivan Meyer, Estelle Veldman, Connie Fagan, Philip Blanckenberg, en dr Mogale Sebopetsa.

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het onlangs die projek 1% #payingmilkforward, ook bekend as Project One, geloods met die doel om die nasie te help voed en om die vlakke van wanvoeding te verlig, veral onder die kwesbaarste mense in ons gemeenskappe.

Read it in English

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het op ’n versoek om bydraes gereageer, deur ’n donasie van melk ter waarde van R100 000 te maak (R50 000 elk van hul navorsingsmelkerye by Elsenburg in Stellenbosch en Outeniqua in George).

Kwesbare wynlandgemeenskap ondersteun

By die oorhandigingseremonie het dr Mogale Sebopetsa, die nuut aangestelde hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, na die moeilike maar interessante tye wat ons as ’n nasie beleef verwys, en gesê dat die COVID-19-pandemie ruimte geskep het om deernis en sorg teenoor ons mense te demonstreer, veral aan diegene wat die kwesbaarste is. Die melkdonasie maak deel uit van die departement se verbintenis tot die menslike-hulpprogram, veral in die Wynlandgebied.

“Ons het die gemeenskapsorganisasie Shiloh gekies om hierdie donasie te ontvang, want hulle het ’n groot voetspoor in die Wynlande, wat ’n groeiende COVID-19-brandpunt is – die tweede grootste ná Kaapstad,” het dr Sebopetsa gesê. Shiloh sal melk en verwerkte voedsel soos jogurt onder kwesbare gemeenskappe in die Wes-Kaap versprei, maar veral in brandpunte soos die Wynlande. Dr Sebopetsa het beklemtoon hoe belangrik die departement se donasie is toe hy met dié woorde afsluit: “Ons wil die verspreiding van COVID-19 stuit.”

COVID-19 hou groot uitdagings vir Kaapse Wynland

Dr Ivan Meyer, Minister van Landbou in die Wes-Kaap, het uitgewy oor die bestuur van die pandemie in die provinsie. Dit behels dat die verspreiding van die virus vertraag word, asook humanitêre noodleniging en steun, wat ’n positiewe uitwerking sal hê op die proses van ekonomiese herstel. Hy het ook aangekondig dat hy en dr Sebopetsa deur die kabinet aangewys is om leiding te neem ten opsigte van die strategie vir die COVID-19-brandpunte in die Wynlandgebied.

“Daar is een miljoen mense in die Wynlande, ’n baie belangrike streek in die Wes-Kaap,” het dr Meyer gesê. Hy het die MPO bedank vir hul bydrae en genoem dat deernis, waardigheid en menslikheid die belangrikste is in hierdie uitdagende tyd.

Melkbedryf ’n steunpilaar in ekonomiese nood

Philip Blanckenberg, MPO-verteenwoordiger in die Wes-Kaap, het bevestig dat dit hulle doelwit is om ’n bydrae aan diegene wat ’n bestaanstryd voer en min of geen kos het om te eet nie, te maak.

“Die melkbedryf is in baie opsigte nie negatief deur die pandemie geraak nie en is dus in ’n voordelige posisie om te kan help. Melkprodusente is ook dankbaar dat die voedingswaarde van ons produk mense se immuunstelsels versterk en hul gesondheid bevorder,” het Blanckenberg gesê. Die idee om 1% van produsente se melk te skenk het by die MPO ontstaan as gevolg van die grootskaalse armoede en onvoldoende toegang tot voedsel weens die pandemie.

Voor die 1%-projek het produsente reeds melk aan verskeie projekte geskenk, en hulle vergroot nou hul bydrae tydens die pandemie. Blanckenberg het die produsente en die Wes-Kaapse Departement van Landbou bedank vir hul ruimhartige skenkings. Hy het ook almal by die departement bedank vir hul rol in hierdie projek, asook die kabinet vir die goeie vordering wat hulle maak om die COVID-19-pandemie te stuit. – Persverklaring, MPO