2018 Santam Landbou #kuilvoerkoning-finaliste aangewys

1290
kuilvoer

Die finaliste in die jaarlikse Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is pas aangewys. Dié kompetisie wat reeds ’n instelling op die landboukalender is, word vanjaar vir die vyfde keer aangebied. Dit is ’n projek van Plaas Media en word deur die maatskappy se mediaplatforms, Veeplaas, Stockfarm, Grootplaas, RSG Landbou en www.agriorbit.com, ondersteun.

Daar is vanjaar 73 kuilvoerbunkers en/of -silosakke in drie kategorieë – mieliekuilvoer, voersorghumkuilvoer en hawerkuilvoer – ingeskryf. Die monsterneming en data-insameling vir vanjaar se kompetisie is deur die Universiteit van die Vrystaat hanteer. Twee meestersgraadstudente aan die universiteit, Evan Macdonald en Kobie van der Walt, het monsters in twee sarsies geneem, eers die kleingraankuilvoermonsters en later die mieliekuilvoermonsters.

Plase van regoor die land het deelgeneem en ’n totaal van 65 plase is in die proses besoek – monsters is geneem so ver as Darling in die suide en Louis Trichardt in die noorde. NTT Toyota Barberton het die studente ondersteun met ’n voertuig om die sowat 12 800km af te lê.

Finaliste

Die lys van finaliste in vanjaar se kompetisie bevat ’n paar ou bekendes se name. Die finaliste, in geen spesifieke volgorde nie, is:

  • Dasvlei, Johan Mostert, Philadelphia – hawer.
  • De Goedehoop, dr Paul Theron, Davel – mielies.
  • Droëvlei, Coenie Basson, Darling – hawer.
  • Elandsfontein, Leon Meyer, Fochville – mielies.
  • LAT Feedlot, Louis Tractchler, Winterton – mielies.
  • Green Star Contractors, Jarren Hurwitz, Davel – voersorghum.
  • Agri Merensky in samewerking met Limpopo Dairies, Louis Trichardt – voersorghum.
  • Morgenzon Landbou-akademie, WJ Smith, Morgenzon – mielies.
  • Limpopo Dairies, Joubert Fourie, Louis Trichardt – mielies (twee inskrywings onder die finaliste).
  • Bag Afrika, Gordon Brown, Vryburg – mielies.
  • Riverlee, Peter Griffin, Mooirivier – mielies.
  • Rusticana Melkery, Daan Malan, Bethal – mielies.
  • Sparta Beef Taaiboschbult, Sello Ntjoboko, Marquard – mielies.
  • Welgemoed, Toit van der Watt, Tweeling – mielies.
  • Westend Landgoed, James Sutherland, Morgenzon – mielies.

Een besondere prestasie wat vanjaar uitgelig moet word, is dié van Joubert Fourie se Limpopo Dairies. Hierdie deelnemer het sedert die aanvang van die kompetisie elke jaar ingeskryf en elke jaar onder die finaliste geëindig, met plasings wat gewissel het van derde tot negende plek. Daar is ook verskeie ander deelnemers wat sedert die aanvang van die kompetisie elke jaar deelneem. Dit spreek van die geweldige erns waarmee deelnemers die gehalte van kuilvoer bejeën.

Aankondiging van wenners

Die wenners in vanjaar se kompetisie sal tydens ALFA 2018 by die Afridome in Parys aangekondig word. ’n Kuilvoerkonferensie word op 20 September by ALFA aangebied. Hiertydens sal die data wat gedurende die kompetisie gegenereer is, bespreek word en sal die onderskeie kategoriewenners aangekondig word. Dit word gevolg deur die ALFA-dinee wat die aand van 20 September plaasvind, waartydens die algehele wenner deur die naamborg, Santam Landbou, aangekondig sal word.

Hou www.agriorbit.com en die hutsmerk, #kuilvoerkoning, dop vir meer inligting oor die wenners.

Santam Landbou