Die minister van finansies, Tito Mboweni, staar ‘n moeilike uitdaging in die gesig wanneer hy sy Nasionale Begrotingsrede op 26 Februarie gaan lewer. Hy sal sy onderneming tot fiskale konsolidasie moet bewys te midde van swak ekonomiese groei, beurtkrag en ‘n potensiële kredietafgradering deur Moody’s. Om ’n afgradering te vermy is heel waarskynlik bo-aan sy agenda.

Verdere besonderhede oor die implementering van strategieë vir ekonomiese herlewing, byvoorbeeld die Nasionale Tesourie se ekonomiese strategie en die planne soos na verwys in die president se staatsrede, sal noodsaaklik wees om beleggersvertroue te steun.

‘n Gesonde balans tussen regeringsinkomste (belastinginkomste) en -uitgawes sal toonaangewend tot die begroting wees en haalbare planne sal in plek moet wees om die begroting te balanseer terwyl die belangrikheid van ekonomiese groei nie uit die oog verloor word nie. Die begroting sal ook die risiko rondom toenemende staatskuld moet aanspreek.

Kernpunte wat aandag moet kry

Agri SA hoop dat minister Mboweni die volgende elemente in sy begrotingsrede sal aanspreek:

Droogtehulp: Doeltreffende en vinnige regstreekse hulp aan droogtegeteisterde gebiede en landbouers. Landboubesighede kan as agente dien om hulp te verleen met die verspreiding van droogtehulp. Droogteverligting moet tot die beskikking wees van boere in die akkerbou-, tuinbou- en diereproduksiebedrywe.

Elektrisiteit: Elektrisiteit is ‘n sleutel produksie-inset vir die landbousektor. Stygende elektrisiteitskoste het ‘n direkte impak op boerderye se internasionale mededingingsvermoë omdat boere die verhoogde insetkoste moet absorbeer. Hervorming in die elektrisiteitsektor sowel as die mitigasie van Eskom se voorsieningbeperkings (beurtkrag) en finansiële uitdagings moet aangespreek word.

• Grondhervorming en hulp aan opkomende boere: Meer befondsing vir grondhervorming en ondersteuning vir opkomende boere is uiters noodsaaklik. ’n Uitkomsgebaseerde benadering, gekoppel aan tegniese en mentorskap-ondersteuning, kan tot groot voordeel wees vir die ekonomie.

Biosekuriteit: Befondsing om Suid-Afrika se biosekuriteitsmaatreëls te ondersteun. Die uitdagings wat bek-en-klouseer bied spreek tot die behoefte aan meer befondsing vir die versterking van maatreëls. Daarbenewens moet voldoende kapasiteit in terme van biosekuriteitspersoneel met behoorlike opleiding ook bestaan.

• Sukkelende munisipaliteite: Planne om munisipaliteite se besigheidsmodelle op te gradeer en om bestuur en dienslewering te verbeter. Swak-bestuurde munisipaliteite hou negatiewe gevolge in vir die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel.

“Landbou is ‘n sleutelsektor om ekonomiese groei te ontsluit, tesame met beleidsekerheid en ‘n gunstiger ekonomiese omgewing,” sê Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie & Handel.

Herlewing van die land se ekonomie

Die begrotingsrede sal voorsiening moet maak vir beslissende optrede en implementering met die oog op die herlewing van die land se ekonomie. Gegewe die belangrike rol wat die landbousektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel, verwag ons dat die begroting genoegsame voorsiening sal maak om die landbou se mededingendheid te bevorder.

Landbouers, veral in die droogtegeteisterde gebiede, moet ondersteun word, sodat die sektor kan voortgaan om gehalte voedsel vir die land te produseer en ‘n bydrae te maak tot werkskepping en armoedeverligting soos beoog in hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). – Persverklaring, Agri SA