Die sewende aanbieding van Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie was ’n reusesukses, ten spyte van die COVID-19-pandemie en sy gevolge. Hierdie jaar se kompetisie het die tweede meeste inskrywings nóg opgelewer, met 63 mielie-inskrywings, ses sorghum-inskrywings en 14 hawer-inskrywings.

Read it in English

Vanjaar se inskrywings het weereens bestaan uit kuilvoer in silosakke of bunkers, maar ’n toetskategorie is vir die 2020-kompetisie bygevoeg met monsters wat geneem is uit kuilvoerbale. Daar was vyf inskrywings in hierdie kategorie en die betrokke gewasse was mielies, sorghum, gras en lusern. Aangesien hierdie ’n toetskategorie is, word dit nie in ag geneem vir formele posisies nie. Die organiseerders sal op grond van die uitslae besluit of dié kategorie aanstaande jaar formeel by die kompetisie ingesluit sal word. In die mededingende kategorieë is 56 bunkers en 23 silosakke ingeskryf.

Die monsternemingspan het ook vanjaar effens anders daar uitgesien. Studente van drie universiteite is vanjaar met hierdie uitdagende werk getaak. Matthew Kinghorn van die Universiteit van die Vrystaat, Pieter Uys van die Universiteit van Stellenbosch, en Timothy Chilemba van die Universiteit van Pretoria, onder leiding van Erna Mostert, assistent-kompetisiekoördineerder van AgSci, het die land platgereis om die monsters te neem. In die proses is ’n totaal van 11 843km afgelê.

Die monsterontleding is deur dr Elrisa Taljaard en haar span by Labworld gedoen. Die resultate is deur prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, nagegaan en geverifieer.

Dankie aan die borge

Vanjaar se kompetisie is deur ’n groeiende span borge ondersteun. Santam Landbou was weereens die hoofborg en is sedert die begin van die kompetisie as hoofborg betrokke.

Vanjaar se prysborge is Kemin, Pannar Saad, Nutribase, Strapping & Profile, en Hurwitz Farming. Elke borg bied waardevolle pryse aan die algehele wenner asook meeste van die kategoriewenners.

Die finaliste

Die data-ontleding is pas deur prof Meeske afgehandel en Plaas Media kondig met trots die finaliste in vanjaar se kompetisie, in geen spesifieke volgorde, aan:

Voersorghum

  • Winter Storm Investments, Marcu van Rensburg
  • Hurwitz Farming (Edms) Bpk, Jarren Hurwitz
  • Vosstoffel (Edms) Bpk, Jaco de Vos

Hawer

  • De Draay Boerdery, Awie Erasmus
  • Groenwei Boerdery, Bull van Rensburg
  • Waplaas Boerdery, Johan Wessels

Mielies

  • Huguenot Farms, Stuart Marais
  • Vosstoffel (Edms) Bpk, Jaco de Vos
  • PR Griffin Farming CC, Shaun Griffin
  • Mount Ashley Farming Trust, Andrew Crookes
  • Waltkon Boerdery, Koos van Wyk
  • Marshmead Farming, Greg Todd
  • Diamond Duo Properties, Juan Helberg
  • SKS Feedlot, Pieter Steenkamp
  • Simpson & Son Farming, Shane Simpson
  • Burnview (Edms) Bpk, Hayden Stokes

Die finaliste in vanjaar se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is deur AFGRI Veevoere, BAG Budissa Agroserv, Hurwitz Farming, Kemin, Meadow Voere Natal, Meadow Voere Paarl, Nutribase, Pannar Saad, TWK Agri en Vosstoffel (Edms) Bpk ingeskryf.

Aankondiging van wenners

Die wenners in vanjaar se kompetisie sal om 18:30 op 21 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op die Plaas TV YouTube-kanaal bekendgemaak word. Dié program sal terugvoer bied oor die data wat ingesamel is, tendense, die pryse wat deur die onderskeie borge gebied word, asook die protokolle wat in die monsterneming en laboratoriumtoetsing gevolg is.

Die kategoriewenners en algehele wenner sal natuurlik ook bekendgemaak word. Maak seker jy skakel in – teken nou al in op die Plaas TV YouTube-kanaal.

Hou ook Plaas Media se mediaplatforms dop vir meer inligting oor die 2021-kompetisie. – Persverklaring, Plaas Media