89ste NWKV-kongres: Geskoei op “Boublokke tot sukses”

850
Produsente en belangegroepe woon jaarliks die NWKV-kongres by om op hoogte te wees van sake in die wolbedryf.

Die 89ste kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het op 13 en 14 Junie by die Pine Lodge-oord in Port Elizabeth plaasgevind.

Die tema van vanjaar se kongres, “Boublokke tot sukses” het neergekom op veranderde omgewings en omstandighede wat dit noodsaak om op sukses voort te bou.

Die NWKV fokus sterk op vennootskappe en verhoudings om die vereniging se visie te verbreed en inklusief te wees. Die produsent is die fondament en anker van die wolbedryf in Suid-Afrika. Daarom moet boublokke voortdurend gevorm en geskaaf word vir ’n gesonde fondament sodat die struktuur suksesvol voltooi kan word.

Jaar-na-jaar sukses

Aanvanklik is die jaarverslae vir goedkeuring voorgelê, waarna Leon de Beer, algemene bestuurder van die NWKV, sy operasionale verslag gelewer en Guillau du Toit, NWKV-voorsitter, ’n beleid en strategiese verslag voorgehou het.

Wie is ek?

Die gas- en motiveringspreker, Jannie Putter, het die feit dat elke mens van jongs af gekondisioneer word om op ’n sekere manier te dink, beklemtoon. “Waarop hoop jy? As produsente moet ons ’n verskil maak. Wanneer gaan ons gelowige mense word in plaas van realistiese mense wie se werklikheid ’n nagmerrie is?”

Waar pas ek as produsent in?

Wessel Lemmer, landbou-ekonoom van Absa AgriBusiness, het gepraat oor waar die wolbedryf in die wêreld inpas, asook die wyse waarop die Suid-Afrikaanse ekonomie en wolbedryf deur politieke en ekonomiese werklikhede geraak word. Een van die aspekte wat hy aangeraak het, is bruto binnelandse groei en wisselkoers-vooruitskattings. “As jy ’n uitvoerproduk produseer en uitvoer na ekonomieë wat groei en jou produk kan bekostig, is jy in die regte bedryf. Dit sluit die wolbedryf in.

“Die landbou lewer ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se ekonomiese groei en dierlike produkte vorm sowat 50% van die totale bruto produksiewaarde van landbou. Die tien grootste landboubedrywe in die land dra 75% tot die bruto binnelandse produk by, terwyl die kleiner bedrywe wat nie onder die top-tien is nie, soos bloubessies, pekanneute, makadamias en luserngewasse, geweldig vinnig groei. ’n Produsent moet na die veranderinge in die bedryf oplet en tred hou met mededingers om homself mededingend te hou.”

Vennootskappe

Engela van Wyk, wat 36 jaar lank met ’n wolprodusent getroud was voordat hy oorlede is, het gesê: “Dit maak nie saak hoe groot of klein jou boerdery is nie, maak jou vrou deel van jou boerdery. Laat haar in die binnekring van jou boerdery-opset in sodat sy ingelig kan wees oor alle aspekte daarvan, ook jou bekommernisse. Maak jou vrou deel van jou finansiële beplanning.”

Oor die vraag, ‘Is meer wol goed vir produsente binne die groeiplan van Cape Wools SA?’ het Louis de Beer, uitvoerende hoof van Cape Wools SA, gesê: “Jy moet die behoeftes van die verbruikers ken om wol strategies te bemark. Ons moet voldoende navorsing doen om die mark goed te verstaan en strategieë uitwerk.”Louis het ook na bevolkingsgroei en die groeiende vraag na wol in lande soos China gekyk.

Binnelandse verwerking

Anthony Kirsten van Sawamba se antwoord op bogenoemde vraag is ’n besliste “Ja!” Hy sê wolverwerking in Suid-Afrika het al in die 1800’s ontstaan, met verskeie klein wolwasserye spesifiek langs die Swartkopsrivier. “Die wol is na Wes-Europa uitgevoer. Teen die 19de eeu was die wolverwerkingsbedryf in Suid-Afrika mededingend, met verskeie wolspesialiste wat waarde toegevoeg het. Ongelukkig het baie van die verwerkingsondernemings tot niet gegaan, met die nodige vaardighede daarmee saam. As ’n mens na die prys van wol kyk, is die prentjie egter dalk nie so donker nie.”

Die waarde van predasie-evaluasie

Prof Graham Kerley van die Nelson Mandela Universiteit het gesê ekstensiewe en deeglike navorsing is oor produsente se probleme met predatore op hul plase gedoen. “Ons het in 2016 met ’n evaluasie van predatore begin en die inhoud daarvan word later vanjaar in boekvorm en PDF-formaat aan produsente beskikbaar gestel. Daar is nie ’n maklike oplossing vir veeverliese as gevolg van predatore is nie.”

Dr George de Kock van Cape Wools SA het oor biosekuriteit en die bedreigings daarvan vir die produsent gesê Slenkdalkoors is ’n groot risiko in die komende somermaande. “As jy deel was van die uitbrekings in 2010 en 2012, is dit noodsaaklik dat jou vee ingeënt moet word.”

Loyiso Ndlovu van die Landbank het oor die befondsing van wolskaapboerdery in kommunale omgewings gesê die Landbank bied verskeie produk-oplossings om produsente te finansier. Hy het gesê sowat 80% van die aansoeke wat vir droogtehulp ontvang het, was van kommersiële boere.

Dr Paul Reynoldts is deur Zoetis genooi en het biosekuriteit onder die vergrootglas geplaas. Hy het gesê dit is ’n konsep waaraan groter én kleiner produsente aandag moet gee. Produsente moet hulself vergewis van wat en waar hulle vee koop om siektes te vermy. “Algemene siektes wat produsente soms inkoop, is skaapbrandsiekte, vrotpootjie, absesse, weerstandige haarwurm, ensoötiese aborsie, hartwater en Johne se siekte.”

Kongreshoogtepunte

Guillau du Toit, wat as NWKV-voorsitter herkies is, sê daar is oor relevante onderwerpe op die kongres gepraat. Besluite is geneem waarop konstruktief voortgebou sal word. “Die tema van die kongres, ‘boublokke tot sukses’, het baie duidelik getoon dat ons blokke het om op te bou, dat daar baie werk in die toekoms wag, en dat ons ’n baie goeie stadium in die wolbedryf beleef. Dit kan toegeskryf word aan die goeie pryse wat die wolbedryf tans handhaaf, die pyplyne is leeg, produksie is laag en daar word goeie vooruitskattings vir die totale wolbedryf wêreldwyd gemaak.”

Hy sê sake wat wel aandag vereis, is produksiegeleenthede. “Aan die een kant is dit om gehalte-wol te produseer en te kyk na die omgewing waarin geproduseer word. Die kode vir beste praktyke gaan in ’n relevante dokument omskep word. Biosekuriteit is in dié stadium ’n groot fokuspunt. Aangesien daar ’n geïsoleerde geval van Slenkdalkoors was en ons voor ’n volgende seisoen staan wat moontlik groot uitbrekings kan hê, is die boodskap om biosekuriteit toe te pas.

“Beskikbare entstof moet gebruik word, want een mens in die bedryf kan die oorsaak wees dat ’n distrik uitgesluit kan word in ’n uitvoerproses van wol. Dit kan ons baie nadelig raak, aangesien ons nie eintlik meer wol binnelands verwerk nie en 90% van die wol uitgevoer word. Daarom is dit uiters noodsaaklik dat ons aan die nodige vereistes vir wêreldhandel voldoen.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir navrae, kontak die NWKV by 041 365 5030 of besoek hul webtuiste by www.nwga.co.za.