Elsenburg Landboukollege kraai koning op die rugbyveld

153
Van links na regs staan AP Rademeyer, Henroe Meyer, Daniel Jooste en Henloe Marais.

Elsenburg Landboukollege se rugbyspan het behoorlik koning gekraai gedurende die 2019-rugbyseisoen. Die skool het aan die Stellenbosch-rugbyklub se koshuistoernooi deelgeneem en dra nou die eersteligakroon. Dit ná hulle skoonskip gemaak het tydens die Suid-Afrikaanse landboukolleges-rugbytoernooi.  

Elsenburg druk sy stempel af

Elsenburg het vanjaar sy stempel afgedruk in die koshuisliga by die Stellenbosch-rugbyklub. In die Sauer-finaal van die eersteliga-koshuistoernooi het Elsenburg vir Eendrag ore aangesit en die Sauer-trofee verower. Dit is voorwaar ‘n groot prestasie vir Elsenburg wat die Sauer-trofee reeds drie keer sedert hul deelname aan die koshuisliga kon wen. Die volgende toekennings is gemaak:

  • Koshuisafrigter van die Jaar: Len Conradie
  • Voorspeler van die Jaar: Henroe Meyer
  • Agterspeler van die Jaar: Daniel Muller

Nege Elsenburg-rugbyspelers is opgeneem in die Elite-merietespan wat na afloop van die toernooi gekies is.

‘n Titaniese eindstryd

Elsenburg het ook die bal raakgeskop tydens die Suid-Afrikaanse landboukolleges-rugbytoernooi wat gedurende Junie 2019 by Glen Landboukollege naby Bloemfontein, aangebied was. Die rugbyweek was grotendeels gekenmerk deur hoogs mededingende rugby. Grootfontein en Elsenburg het egter die toernooi oorheers. Elsenburg het Grootfontein tydens die finaal in ‘n titaniese wedstryd geklop. Die wedstryd is aangewys as die beste wedstryd in die toernooi en die twee spanne het sodoende die Willie van Zyl-trofee verower.

Elsenburg het die volgende trofeë verower nadat die rugbyspan eerste plek behaal het tydens die Pannar Corteva-rugbytoernooi:

  • IPJ du Plessis-trofee: Wenners van die toernooi
  • Boland Bank-trofee: Mees konstruktiewe rugby
  • Joe Venter-trofee: Beste voorspeler – Brendon Botha
  • Pannar-trofee: Beste agterspeler – Slabber la Grange
  • Grant en Lu Kobus-trofee: Mees invloedryke speler – Brendon Botha
  • Willie van Zijl-trofee: Twee spanne wat beste wedstryd gespeel het – Elsenburg teen Grootfontein
  • Corteva-trofee: Meeste drieë gedruk – Elsenburg (39 drieë)
  • Du Pont-trofee: Speler wat meeste punte aangeteken het – Slabber la Grange

Na afloop van die toernooi was daar ook elf spelers opgeneem in die Suid-Afrikaanse landboukolleges se gekombineerde span.

Toewyding van die spelers

Bo en behalwe hierdie prestasies, spog Elsenburg ook met huidige en afgestudeerde studente, AJ de Klerk en André Rademeyer, wat beide in die Namibiese nasionale span opgeneem is wat aan die Wêreldrugbybekertoernooi deelgeneem het.

Die prestasies kan toegeskryf word aan die toewyding van die spelers asook spesialis-afrigting deur Len Conradie en Ferdie van Dyk. Die betrokkenheid van verskeie borge dra ook by tot die goeie gees en prestasies van die span.  

Volgens Willie van Zijl, president van die rugbyklub, wat vanjaar na 38 jaar die tuig neerlê, is hy bevoorreg om betrokke te kon wees sedert 1982 by kollege- en koshuisrugby. Hierdie rugbyseisoen was vir hom ‘n hoogtepunt om mee af te sluit en uit te tree. – Willie van Zijl, Elsenburg Landboukollege