Die dreigende verbod op die invoer van jagtrofeë wat tans in Brittanje en Amerika ter sprake is, kan ’n ernstige negatiewe impak hê op een van die sterk pilare waarop die Suid-Afrikaanse wildbedryf rus. Hoewel trofeejagters uit Engeland nie ’n baie groot persentasie van die jagbedryfkliënte uitmaak nie, kan so ’n verbod ’n presedent skep wat ander regerings ook kan laat swig onder die druk van dierewelsynsgroepe.

In ’n voorlegging aan die Britse span wat trofeejag ondersoek en aanbevelings aan sy regering moet maak rondom ‘n verbod op die invoer van trofeë al dan nie, sê Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) dat die positiewe rol wat wettige trofeejag speel in die bewaring van biodiversiteit, gestaaf word deur die welslae van die wildlewe in Suid-Afrika.

Daar word gewaarsku dat ’n belangrike steunpilaar van natuurbewaring kan verdwyn, werksgeleenthede verlore kan gaan en boere ontmoedig sal word om wildspesies te teel, vermeerder en bewaar.

Trump oor olifantjag

President Donald Trump van Amerika het einde verlede jaar die jag van olifante vir trofeë as ’n rillervertoning beskryf en gesê hy is skepties oor aansprake dat dit die bewaring van olifante bevoordeel.

Volgens die berig waarin Trump in The Washington Post aangehaal word, is die rede waarom die waarde van trofeejag van veral groot diere bevraagteken word, dat daar so min van hulle vandag in die natuur oor is. Daar is wilde olifante in sowat 50 lande in Afrika en Asië en net vyf van hulle laat toe dat olifante vir trofeë gejag word. Daar word gevra, as trofeejag dan so ’n belangrike werktuig was, sou ’n mens nie ’n wyer toepassing van die werktuig gesien het nie?

Nêrens in die berig word melding gemaak van die getal olifante in Namibië en Botswana, waar olifante ’n bedreiging vir mense en vee geword het en ander spesies met uitwissing bedreig omdat hulle die habitat vernietig, of van Suid-Afrika nie.

Die Britse aanslag

In Engeland word ’n verbete aanslag deur Siobhan Mitchell gelei wat eis dat die premier, Boris Johnson, die in- en uitvoer van jagtrofeë verbied en ’n einde aan die barbaarse praktyk bring. Sy voer onder meer aan dat dit nie sin maak om te beweer dat die jag van wild voordelig is, maar die stroop daarvan is nadelig nie. Sy meen ook dat die voortbestaan van spesies deur beplande seleksie bedreig word.

Waaroor sy egter swyg is dat jakkalsjagte 15 jaar gelede in Brittanje verbied is, maar dat daar volgens die koerant, The Conversation, verlede jaar op Oukersdag alleen 151 sulke jagte plaasgevind het en 21 jakkalse doodgemaak is. In 2018 was daar 550 onwettige jagte. Ondanks die verbod, het jakkalse se getalle sedert 1995 met ’n kommerwekkende 41% gedaal.

Buffels lewer die grootste opbrengs vir die trofeejagbedryf en ’n buffeljag is bo-aan die wenslysie van meeste trofeejagters.

Dit is duidelik dat feitlik oral waar private individue nie die wild besit en ’n waarde daaraan heg nie, bewaring klaaglik misluk. ’n Baie goeie voorbeeld is die twee wit kameelperde wat onlangs in Kenia deur stropers doodgemaak is.

’n Foto van twee wit kameelperde het in 2017 wêreldwyd opspraak gewek en in Maart vanjaar is die karkasse van ’n wit koei en kalf in ’n gehuggie in die noordooste van Kenia se Garissa-provinsie gevind. Die bul, indien hy nog lewe, is nou die enigste wit kameelperd wat oor is. Die gemeenskap wat hulle moes bewaar, het hulle drie maande lank nie gesien nie en is erg geskok.

Rol van privaatbesit in bewaring

WRSA se reaksie hierop is deur sy uittredende hoofbestuurder, Adri Kitshoff-Botha, voorgelê aan die Britse regering se taakspan wat die haalbaarheid van ’n verbod op die in- en uitvoer van jagtrofeë ondersoek. Die positiewe rol van volhoubare, verantwoordelike en wettige trofeejag in die bewaring van biodiversiteit, word bewys deur die welslae wat Suid-Afrika met omgewingsbewaring behaal het.

Vanaf sowat twee eeue gelede was die wildlewe in Suid-Afrika onder geweldige druk en het bewaring eintlik net in die spesiaal geproklameerde nasionale wildtuine gedy. ’n Model van private eiendomsreg van wild het egter daartoe gelei dat miljoene hektaar marginale grond, wat vir min landbouvertakkings waarde gehad het, in produktiewe, florerende wildsplase omskep is.

trofeejag
Rooibokke is die spesie wat die meeste deur oorsese besoekers gejag word. Die swartneusrooibok, wat veral in die noorde van Namibië voorkom, is ook baie gewild.

Daarmee het Suid-Afrika daarin geslaag om die getalle van alle wildspesies beduidend te laat groei en ook te voorkom dat verskeie spesies totaal uitgewis word.

Trofeejag vorm een van die belangrike pilare waarop die Suid-Afrikaanse wildlewebestuursmodel gevestig is. Saam met wildteling, ekotoerisme en handel in wildleweprodukte, maak dit die bedryf lewensvatbaar en volhoubaar. Vandag het Suid-Afrika meer wildlewe as enige ander tyd in die afgelope 100 jaar.

Invloed op plaaslike ekonomieë

Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) beskryf trofeejag as ’n manier om wildlewe te gebruik wat, as dit goed bestuur word, natuurbewaring kan bevorder. Dit kan die inkomste en inisiatiewe skep vir die bewaring en bestuur van teikenspesies sowel as hul habitat, en terselfdertyd plaaslike gemeenskappe se lewensmiddele aanvul.

As trofeejag goed bestuur word, is dit ook dikwels ’n voordeliger manier om grond aan te wend en het dit ’n minder nadelige invloed op die omgewing as alternatiewe soos landbou en toerisme.

Wildlewebestuurspraktyke word goed gereguleer in Suid-Afrika en enige bykomende beperking op die in- en uitvoer van wildtrofeë, hoe goed dit ook al bedoel is, sal die insentief vir boere om in wildlewe te belê, wegvat. Dit sal hul bydrae tot die bewaring van wildlewe en sosio-ekonomiese hulp in die landelike gebiede beëindig, lui die voorlegging.

In Namibië het die land se kabinet gesê dat, ondanks die verskerpte aanslag op trofeejag, dit van kardinale belang vir die land se ekonomie is. Indien die verbod van krag sou word, gaan 15 000 werksgeleenthede verlore gaan en die regering se pogings om armoede te beveg, in die wiele gery word.

Prof Peet van der Merwe, verbonde aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus), sê ’n nuwe studie het getoon dat die trofeebedryf soveel as R1,98 miljard per jaar werd kan wees. Oorsese jagters bestee sowat $10 300 (ongeveer R164 000) per jagtog in Suid-Afrika.

Volhoubare ekotoerisme

Jag is ’n vorm van volhoubare ekotoerisme as ’n mens die hoeveelheid geld wat jagters per jagtog bestee, vergelyk met die besteding van ander toeriste uit dieselfde lande. Daarmee saam kan dit tot groter werkskepping in landelike gebiede lei. Dit is ’n waardevolle nismark wat nie verwaarloos moet word nie en dit sal jammer wees as faktore buite die bedryf se beheer, dit pootjie.

Trofeejag
Koedoes is baie gesog by buitelandse trofeejagters.

Die spesies wat die meeste gejag word is rooibokke, vlakvarke, springbokke, koedoes en blesbokke. Die spesies wat die meeste geld inbring is buffels, leeus, swartwitpense, koedoes en njalas.

Buitelandse jagters word veral gelok deur die bekostigbaarheid van jagtogte, die feit dat dit goeie waarde vir geld is en ’n verskeidenheid wildspesies volop beskikbaar is. Daarby voel hulle baie veilig in die veld en op jagplase, sê Peet.

Sowat 86% van die jagters is van Amerika afkomstig en net 1% van Brittanje. Amerikaanse jagters het tussen 2005 en 2014 altesaam 1,26 miljoen wildstrofeë teruggeneem na Amerika waaronder sowat 32 500 trofeë van die Groot Vyf uit Afrika was.

Vir meer inligting, kontak WRSA by epos info@wrsa.co.za, of prof Peet van der Merwe by 082926 9240 of Peet.VanDerMerwe@nwu.ac.za. – Andries Gouws, Veeplaas