Goeie vordering word gemaak met die ontwikkeling van tegnieke om die aanwas van renosters te bevorder. Die Noordelike Witrenoster-projek is daarop gemik om die genetiese poel van die suidelike witrenoster te vergroot en só te verhoed dat die noordelike witrenoster uitsterf.

Dr Morné de la Rey van Embryo Plus en sy jarelange vriend, dr Hendrik Hansen, staan aan die spits van dié projek, waarin tegnieke wat reeds vir vee bestaan, nou vir renosters aangepas word en sluit kunsmatige inseminasie (KI), embrio-oorplasings, in vitro-bevrugting en selfs kloning in.

“Elke bietjie werk wat ons doen, help ons om kennis oor die geslagstelsel en hormoonprofiele van die renoster in te win. Die kennis wat ons versamel, gebruik ons dan om die renostergetalle te vermeerder deur minder vrugbare diere met verskeie ondersteunende reproduksietegnieke te help,” sê dr De la Rey.

Nuwe aanwending van bestaande tegnieke

Die prosesse wat gebruik word, is prosedures wat al betreklik gevestig is vir vee. By renosters is alles egter groter, dieper en verder as dit by die oes van eierselle, embrio-oorplasings en KI kom. Die eierstokke is 1,5m diep, wat meebring dat ’n mens die eierstokke nie met een hand deur die rektum kan hanteer en met die ander hand die ultraklank en aspirasienaald transvaginaal kan manipuleer nie.

Alles moet rektaal gedoen word en verlengstukke van twee meter lank is nodig om die naald in die follikel in te druk en die eiersel uit te suig. Hulle het die prosedure nou al goed onder die knie en het onlangs twaalf eierselle geoes met die doel om in vitro-bevrugting te bewerkstellig.

Verhoogde vrugbaarheid

’n Interessante verwikkeling is dat die oes van eierselle skynbaar die hormoonstelsel van renosterkoeie aanvuur en hulle dan met ‘n versterkte hormoonsiklus gereeld en normaal op hitte kom om deur ’n bul gedek te word. Vier kalfies is al op Thaba Manzi gebore nadat eierselle van koeie geoes is en hulle daarna deur bulle gedek is.

Die kalf, Jackie, is op 24 Mei vanjaar gebore nadat die ma, May, vir meer as ses jaar nie van ’n bul dragtig geraak het nie, totdat eierselle van haar eierstokke af geoes is. Intussen is daar nog drie kalwers uit natuurlike dekkings gebore nadat dieselfde prosedure gevolg is.

Ontwikkeling van die embrio

Die volgende stap is om die eierselle in die laboratorium te bevrug. Die eierselle wat geoes is, word vir 24 uur in ’n broeikas gesit om volwassenheid te bereik. ’n Enkele sperm word met ’n pipet in die eiersel ingespuit (intra-sitoplasmiese sperm-inspuiting). Die embrio’s word dan toegelaat om verder in die broeikas te ontwikkel totdat hulle die blastosist-stadium bereik om dan oorgeplaas te kan word.

Dr De la Rey sê hulle het dit al reggekry om renosterembrio’s te kweek tot in die morula-stadium, net voor die blastosist-stadium. Renoster-embrio’s kon nog nêrens in die wêreld geslaagd oorgeplaas word nie, maar hulle bespreek nou die moontlikheid daarvan met verskeie Suid-Afrikaanse renosterboere om van hul koeie vir die projek beskikbaar te stel.

Nuwe hoop vir witrenosters

Dié welslae van Embryo Plus kan grootliks daartoe bydra dat die noordelike witrenoster van uitwissing gered en geneties meerderwaardige renosters in Suider-Afrika vinniger vermeerder kan word.

In 1960 het daar sowat 2 000 noordelike witrenosters in Afrikalande noord van Zaïre en die Demokratiese Republiek van die Kongo voorgekom. In Julie 1994 is hulle weer getel en toe was daar net sowat 20 van die diere oor. Sedertdien het stropers hulle uitgeroei en vandag is daar net twee koeie oor wat uit ’n Europese dieretuin kom en nie in staat is om natuurlik te reproduseer nie.

Die noordelike witrenoster is ’n subspesie van die suidelike witrenoster en is vandag waarskynlik die raarste soogdier in die wêreld en beslis die mees bedreigde renosterspesie. Die Noordelike Witrenoster-projek is juis van stapel gestuur om die spesie te red.

Die oogmerk van die projek is om ’n robuuste protokol te ontwikkel om die welslae wat met die oes van eierselle behaal is, die in vitro-bevrugting daarvan en uiteindelike oorplasing van die embrio’s te optimaliseer, kennis uit te ruil en dit te gebruik om die spesie te red van uitwissing.

Voortgesette navorsing nodig

Genetiese materiaal in die vorm van weefselmonsters en semen is versamel en word in verskeie dele van die wêreld bewaar. Intussen het die Afrika-renoster-spesialisgroep ook laat blyk dat hulle belangstel om kruisteeltprogramme met dié twee spesies aan te pak. Meer voordele kan dus voortvloei as die tegnieke vervolmaak kan word.

ʼn Logiese en produktiewe manier om die oogmerke te verwesentlik, is waarskynlik die daarstelling van ʼn wildlewe/renoster-teelsentrum in Suid-Afrika waar die navorsingswerk op die suidelike witrenoster voortgesit kan word. Dit kan lei tot die geslaagde embrio-oorplasings van die noordelike witrenoster deur die gebruik van die verskillende tegnieke wat al met welslae vir vrylopende renosters in Suid-Afrikaanse wildreservate gebruik is.

Die Afrika-renoster-spesialisgroep se werk kan op sosiale media gevolg word by name van die nie-winsgewende organisasie, Rhino Repro.

Goeie vooruitsigte

Dr De la Rey sê die gebruik van ondersteunende tegnieke in die bestuur van wild is weliswaar nog in sy kinderskoene, maar dit raak ’n ál groter werklikheid. Dit word gestaaf deur die geboorte van die eerste buffelkalf, Pumelelo, wat in 2016 aangekom het met behulp van in vitro-bevrugting.

“Dit was ’n eerste in die wêreld en hou groot belofte in vir die oorlewing van bedreigde spesies. Die eierselle is tot volwassenheid laat ontwikkel en bevrug met die bevrore semen van die buffelbul, Goliat. Die embrio is in ’n ontvanger-buffelkoei oorgeplaas en elf maande later is die kalf op die Lekkerleef-landgoed van Frans Stapelberg by Marble Hall in Limpopo gebore.

“Net soos met die huidige werk op renosters, was intensiewe navorsing nodig om dié tegniek te laat werk, want alle spesies het verskillende behoeftes vir groei en benut verskillende voedingstowwe gedurende die ontwikkelingstyd in die laboratorium,” sê dr De la Rey. – Andries Gouws, AgriOrbit