Om een van die Absa Top 10 Pinotage-wenners te wees is sekerlik die hoogste toekenning wat enige Pinotage-produsent voor kan hoop. Die Top 10-wenners verteenwoordig nie net die heel beste Pinotage in Suid-Afrika nie, maar dien ook as ‘n herinnering aan die kwaliteit van Suid-Afrikaanse wyn as ‘n geheel. Of, in ander woorde, wyn wat op dieselfde vlak is as die bestes ter wêreld.

Beoordelaars wat die fantastiese wyne vir die 2019-kompetisie geproe het, was Winnie Bowman (kompetisievoorsitter), Greg Sherwood (wynmeester gebaseer in Londen), Razvan Macici (bekroonde wynmaker), Nomonde Kubheka (wynmaker verbind met die Pinotage Youth Development Academy), Frans Smit (Spier-keldermeester) en Solly Monyamane (protégé).

Die 2019 Absa Top 10 Pinotage-wenners:

  • Anura Pinotage Reserve 2016
    • WO Simonsberg-Paarl (Anura), wynmaker Stander Maass
  • Badsberg Pinotage 2018
    • WO Breedekloof (Badsberg Wynkelder), wynmaker Henri Swiegers
  • Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017
    • WO Stellenbosch (Beyerskloof Wyne), wynmaker Anri Truter
  • Diemersdal Pinotage Reserve 2018
    • WO Durbanville (Diemersdal Landgoed), wynmaker Thys Louw
  • Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016
    • WO Kusstreek (Distell – Fleur du Cap), wynmaker Pieter Badenhorst
  • Kanonkop Pinotage 2015
    • WO Simonsberg-Stellenbosch (Kanonkop Landgoed), wynmaker Abrie Beeslaar
  • Survivor Pinotage 2017
    • WO Swartland (Overhex Wines International), wynmaker Ben Snyman
  • Simonsig Redhill Pinotage 2017
    • WO Stellenbosch (Simonsig Landgoed), wynmaker Debbie Thompson
  • Vondeling Bowwood Pinotage 2016
    • WO Voor Paardeberg (Vondeling Wines), wynmaker Matthew Copeland
  • Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016
    • WO Botrivier (Wildekrans Wine Estate), wynmaker Braam Gericke

Die wenwyne

Vanjaar se Top 10-wyne kom uit ses verskillende wynstreke, met die Stellenbosch- en Paarl-streke voor in die koor met drie en twee wyne onderskeidelik.

Kanonkop het geskiedenis gemaak deur die Absa Top 10 Pinotage-lys vir die 14de jaar te haal. Hul Pinotage is nie net die oudste wenwyn die jaar nie, maar ook die enigste wyn uit die 2015-oesjaar. Beyerskloof het met hul Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pinotage 2017 hul negende trofee in die kompetisie opgeraap. Simonsig is die laaste van die Stellenbosch-wenners met hul Simonsig Redhill Pinotage 2017.

Die twee 2018-oesjaar wyne in dié jaar se groep wenners, die Diemersdal Pinotage Reserve 2018 en die Badsberg Pinotage 2018, is die enigste wyne uit onderskeidelik die Durbanville- en Breedekloof-streek.

Vondeling, wat hul debuut in die Absa Top 10 Pinotage met die Vondeling Pinotage 2016 maak, word deur ‘n ander 2016-oesjaar wyn uit die Paarl-streek vergesel, naamlik die Anura Pinotage Reserve 2016.

Die Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016 en die Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016 is die twee ander 2016-oesjaar wyne wat die hoogste lof behaal het. Die 2016-oesjaar is die mees verteenwoordigende oesjaar met vier wenwyne.

En laaste, maar nie die minste nie, is die Survivor Pinotage 2017, die enigste verteenwoordiger van die Swartland-streek.

Museumklas

Produsente is vir die derde agtereenvolgende jaar uitgenooi om Pinotage-wyne ouer as tien jaar in die Museumklas-kategorie in te skryf. Hierdie ikoniese wyne bewys onomwonde dat Pinotage merkwaardige verouderingspotensiaal het.

Die Museumklas Trofee-wenners:

  • Fairview Primo Pinotage 2007
    • WO Kusstreek (Fairview), wynmaker Anthony de Jager
  • Hill & Dale Pinotage 2007
    • WO Stellenbosch (Hill & Dale), wynmaker Guy Webber
  • Rijk’s Private Cellar Pinotage 2009
    • WO Tulbagh (Rijk’s Cellars), wynmaker Pierre Wahl

Kwaliteit bly voortreflik

Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage-assosiasie, het beklemtoon dat, wat gehalte betref, Pinotage se opwaartse kurwe voortduur en dat die mark vir hierdie kultivar aanhou groei – plaaslik en internasionaal.

“Die voortreflike kwaliteit van die wyne wys jaar na jaar dat produsente, wingerboukundiges en wynmakers saamwerk,” sê Beyers. “Uiteindelik gaan dit daaroor om in voeling te wees met jou terroir. Absa deel hierdie siening met ons en is al meer as twee dekades ‘n vennoot van die Pinotage-assosiase. Hulle deel ons langtermynvisie, waarvan een die groei van Pinotage wêreldwyd is.

“Ek vind dit ook besonders bemoedigend dat so baie style moontlik is met Pinotage. Vanjaar is daar wenners uit ses verskillende wynstreke, elkeen met hul eie unieke styl, karakter en uitdagings. Ons jong wynmakers is ‘n dapper klomp en gaan voluit om die beste uit hul onderskeidelike streke te kry in terme van kwaliteit asook diversiteit.”

Absa glo die gemeenskap moet baat

Tina Playne, Absa se hoof van sektorale en segmentele verhoudingsbankwese, bevestig dat die vennootskap met die Pinotage-assosiasie baie voordelig is en dat daar ‘n geweldige trots by hulle is wanneer hulle die jaarlikse Absa Top 10 Pinotage-geleentheid bywoon.

“Ons stap nou al vir 23 jaar die pad saam met Pinotage en is seker daarvan dat hierdie ongelooflike vennootskap nie net sal voortduur nie, maar ook sal groei,” sê Tina. “Veels geluk aan al die wenners sowel as finaliste en hou asseblief aan met wat julle doen. Besef dat ons nie net julle Top 10 sukses vier nie, maar ook julle bydrae tot agribesigheid, een van die pilare van die Wes-Kaap se ekonomie.

“Terwyl dit vir ons belangrik is om in ons besigheid te groei, glo ons ook dat ons terselfdertyd die gemeenskappe waarin ons betrokke is, moet ondersteun. As hierdie gemeenskappe goed vaar en groei, groei ons ook. Wanneer die samelewing opgehef word, word almal van ons opgehef.” – Persverklaring, Pinotage-assosiasie