Volgens prof Annemie Erasmus van die Landbounavorsingsraad is die herfskommandowurm reeds vroeg in dié seisoen in Suid-Afrika bevestig. Sy sê dat toestande veral in die noordelike dele van Suid-Afrika gunstig is vir die voorkoms van herfskommandowurm. “Daar is reeds gevalle aangeteken by Groblersdal, Malalane, Nelspruit, Brits, Thabazimbi, Lichentenburg en meer.”

Volgens prof Erasmus is die vermoede dat die herfskommandowurm in die Noorde die wintermaande oorleef en dan van daar af versprei tydens die res van die seisoen.

Sy beklemtoon egter sterk dat hierdie wurm somtyds met ander wurmplae verwar word en dat dit belangrik is dat produsente tussen verskillende wurms moet kan onderskei. “Daar is nou gevalle aangeteken van die Afrika-kommandowurm wat die rondte doen. Daar was ook ’n snaakse larfspesie opgemerk, wat nog geïdentifiseer moet word.”

Met dit ingedagte, skryf Erasmus die volgende oor die onderskeie wurmspesies:

Nadat die herfskommandowurm (Foto 1), wat ’n indringer insekspesie is, Afrika binnegeval het, is die belangrikheid om tussen die verskillende larwes wat mielies aanval te kan onderskei, weer opnuut bevestig. Om dinge te vergemaklik, kyk ons in hierdie inligtingstuk na larf-/wurmspesies wat mielies kan aanval. Hierdie larfspesies behoort almal aan die insekorde Lepidoptera. Dit beteken dat daar tydens die onvolwasse stadium, nadat die eiertjies uitgebroei het, ’n larf/wurm stadium is. Hierna word die larf ’n papie en na die papie kom daar ’n mot of skoenlapper.

Daar is tans twee kommandowurm-spesies in Suid-Afrika aan ons bekend, naamlik die Afrika-kommandowurm (Spodoptera exempta) (Foto 2) en die kleinkommandowurm (Spodoptera exigua) (Foto 3).

Afrika-kommandowurm

Die Afrika-kommandowurm kom wyd voor in Afrika suid van die Sahara en is ’n ernstige plaag in lande noord van Suid-Afrika. Die onverwagse plaaguitbrekings wat voorkom, is kenmerkend van die Afrika-kommandowurm. Groot areas weiding, grasperke en grasgewasse (byvoorbeeld mielies en sorghum) word selde aangeval deur groot kolonies larwes.

Geringe uitbrekings kom gereeld voor, veral in gebiede met hoë reënval soos Mpumalanga en KwaZulu-Natal, maar grootskaalse uitbrekings kom slegs elke vyf tot tien jaar voor. Die ergste uitbrekings in Suid-Afrika kom voor in seisoene met laatsomer-reënval na droogte-toestande.

Die mot van die Afrika-kommandowurm is bruin van kleur met wit agtervlerke en kenmerkende donkerder patrone aan die voorvlerke. Motte kan oor duisende kilometers migreer, veral tydens jare met plaaguitbrekings. Motte migreer vroeg-aand en kan ’n hoogte van tussen 300 en 1 000m bo grondvlak bereik. Motte beweeg windaf op lugstrome, gewoonlik vanaf die warmer noordelike buurstate soos Zambië, Zimbabwe of Mozambiek, na Suid-Afrika.

Motte lê eiers in groepies van 100 tot 400 en ’n enkele wyfie kan tot sowat 1 000 eiers lê. Eiers broei binne drie tot ses dae uit, afhangend van die temperatuur en humiditeit. Larwes groei tot ’n lengte van sowat 25mm, kom swart voor met groen/geel strepe oor die lengte van die lyf en het ’n kenmerkende V-vormige merk op die kopkapsule. Uitgegroeide larwes word papies in die grond.

Om die kommandowurmlarwes doeltreffend te beheer, moet die plaag vroegtydig waargeneem word. Indien larwes eers waargeneem word as hulle al amper uitgegroei is, is dit gewoonlik te laat om hulle chemies te beheer, aangesien skade al klaar aangerig is en daar nie noodwendig ’n tweede generasie sal wees nie. Waar larwes nog beweeg van een land na ’n ander, kan ’n voor geploeg word waarin larwes vasgevang word. Sodoende kan hulle dan toegeploeg word of chemies beheer word.

Kleinkommandowurm

Die kleinkommandowurm kom verspreid oor die hele wêreld voor en die larwes kan ook in massas trek. Of hierdie verskynsel al in Suid-Afrika opgemerk is, is nog nie bevestig nie. Die spesie kan in twee fases voorkom: ’n trek- of swermfase (waartydens hulle donkerder van kleur is) of ’n enkellopende fase. Die enkellopende larwes word gewoonlik in ’n C-vormige, gekrulde houding in mieliesaailinge se kelke gevind. Die larwes is groen met ’n groen-bruin kop en word net sowat 15mm groot. Alhoewel daar heelwat variasie in die kleur van ouer larwes tydens die trekfase is, is hulle gewoonlik donker van kleur.

Die mot van die kleinkommandowurm is bleekgrys met bruin merke op die voorvlerke. Die agtervlerke is wit met donker are. Die motte kan tot 600 eiers lê in groepies van 30 tot 100 op ander plante, maar dit is gewoonlik nie die geval op mielies nie. Die hoeveelheid larwes wat op mielies gevind word, is gewoonlik nooit so groot nie – enkellarwes kom meestal voor. Die larwes word papies in papieselle onder die grond en motte kom sowat tien tot twaalf dae later uit. Hierdie spesie bereik selde plaagstatus op mielies.

Herfskommandowurm

Die herfskommandowurm is die indringer spesie wat verwarring kan skep. Hierdie spesie is vroeg in 2017 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk. Die herfskommandowurm is wyd verspreid in Noord- asook Suid-Amerika. Hierdie plaag vreet ’n groot verskeidenheid plante, maar verkies grasse en grasgewasse. Die wurms kan egter ook groot skade aanrig aan grondbone, soja, akkerbone en koring. Die larwes groei baie vinnig en vreet groot gate in blare of selfs die hele blaarblad.

Die larwes is eers groen van kleur en verkleur na groen-bruin soos die larwes ouer word. Die larf het ’n kenmerkende Y-vorm op die kopkapsule. Die larfstadium kan tussen 16 to 30 dae neem, afhangend van temperatuur en humiditeit. Die volgroeide larf word ’n papie in ’n papiesel in die grond. Die mot broei na sowat ’n week uit en lê eiers op plantegroei rondom grasgebiede.

Valsbolwurm en Afrika-bolwurm

Nog twee spesies wat in mielielande kan voorkom is die valsbolwurm/valskommandowurm (Leucania loreyi) (Foto 4) of die Afrika-bolwurm (Helicoverpa armigera) (Foto 5). Hierdie spesies kan ook verwarring veroorsaak.

Die valsbolwurm kom slegs kol-kol voor, in teenstelling met die Afrika-bolwurm. Die motte van die valsbolwurm lê tot 100 eiers, wat binne sowat vyf dae uitbroei, in pakkies tussen die blaarskede en die stam. Larwes het ook die kenmerkende vaal streep aan die sye soos die Afrika-bolwurm, maar is gewoonlik vaal van kleur. Larwes kan tot ses keer vervel. Daar is ook ’n paar generasies per jaar.

Jong larwes kan blare tot so ’n mate beskadig dat slegs blaarnerwe oorbly, terwyl ouer larwes die hele blaar kan opvreet. Skade kan ook aan mieliekoppe aangerig word wat ooreenstem met die skade van die Afrika-bolwurm. Larwes vreet gewoonlik gedurende die nag. Larwes kan in die kelk van jonger mielieplante voorkom, asook op mieliekoppe en suiers. Hierdie spesie kan plaagstatus aanneem op hawer en koring.

Die Afrika-bolwurm word beskou as een van die belangrikste plae op landbougewasse in Suid-Afrika, aangesien dit ’n wye verskeidenheid gewasse aanval. Bolwurmmotte vlieg snags en lê geelwit eiers op mieliekoppe en blare. Die eiers neem drie tot vyf dae om uit te broei. Larwes vervel vyf tot ses keer, waartydens hul van kleur kan verander. ’n Karakteristieke kenmerk van die Afrika-bolwurm is die bleekwit strepe aan die sye van die larwes. Die larwale stadium duur ongeveer ’n maand en kom voor na die blomstadium.

Waar mielielande besmet is met Afrika-bolwurm larwes, vreet die larwes aanvanklik die mieliebaard en tonnel later in die punte van die koppe in. In mielielande waar swaar besmetting op jong koppe voorkom, kan die baard so beskadig word dat dit kan lei tot swak bestuiwing. Indien blare van jong koppe beskadig word gedurende reënperiodes en water die koppe binnedring, kan swamgroei voorkom wat sade laat verkleur. In die meeste gevalle word slegs die punte van mieliekoppe beskadig en oesverliese is gering.

Boere moet dus op die uitkyk wees vir kommandowurm uitbrekings. ’n Goeie aanduiding in die veld is ’n samedrom van voëls in weiding, waar hulle op die larwes voed. Indien daar enige uitbrekings voorkom, kan duidelike foto’s geneem word en die LNR-IGG kan in kennis gestel word. Tydens enige uitbreking sal die tipe spesie dadelik geïdentifiseer word.

Vir meer inligting of om uitbrekings te rapporteer, skakel Annemie Erasmus by 018 299 6113 of stuur ’n e-pos aan ErasmusA@arc.agric.za.