Die Suid-Afrikaanse perdegemeenskap hou jaarliks asem op wanneer die tyd vir Afrika-perdesiekte aanbreek. Dit word as die ernstigste siekte onder perde in die wêreld bestempel, en afgesien van streng inentingsregulasies en ander voorsorgmaatreëls, is dit ’n deurlopende stryd om perde hierteen te beskerm.

Die effek van Afrika-perdesiekte strek ook soveel wyer as net die dood van werks- en sportdiere – die finansiële impak wat uitvoerbeperkings op die perdebedryf as geheel het, is enorm.

Wat is Afrika-perdesiekte?

Afrika-perdesiekte (APS) is ’n virussiekte wat deur middel van die Culicoides-muggie onder perde, donkies en sebras versprei word. Die APS-seisoen duur van November tot Mei, met die hoogseisoen tussen Februarie en April.

APS kom in drie hooftipes voor: dunkop, dikkop en ’n kombinasie van die twee. Volgens die Trust vir Afrika-perdesiekte is dunkop die ernstigste vorm, met ’n sterftesyfer van 90%. Perde wat hiermee besmet is, het gewoonlik ’n hoë koors van 39 tot 40°C – die gemiddelde temperatuur vir ’n volwasse perd is tussen 36 en 38°C. Daarby ervaar siek perde ook probleme met asemhaling en ’n afskeiding van die neus, wat met ander simptome van longedeem gepaardgaan. Perde vrek gewoonlik so vinnig as 24 uur na die aanvang van koors, weens asemhalingsversaking.

Afrika-perdesiekte veroorsaak dat die uitvoer van perde moeisaam is. Die finansiële impak wat uitvoerbeperkings op die bedryf as geheel het, is enorm.

Dikkop het ’n sterftesyfer van ongeveer 50%. Perde het koors, swelling van die kop en oë (in ernstige gevalle kan die hele kop swel), verlies van slukvermoë, moontlike kolieksimptome en bloeding van die mond- en oogmembrane. Die perd kan verder simptome van konjunktivitis hê, asook kortasem. Dikkop het gewoonlik ’n stadiger vrekte tot gevolg, met perde wat vier tot agt dae na die aanvang van koors vrek.

Perde met die gemengde tipe toon simptome wat algemeen by beide dun- en dikkop voorkom. Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) is die sterftesyfer hiervoor tussen 70 en 80%.

Voorkoming deur inenting

Al nege stamme van APS kom in Suid-Afrika voor en ’n geregistreerde entstof is vir al nege ontwikkel. Volgens prof Alan Guthrie, direkteur van die perdenavorsingsentrum van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, is die entstowwe eers in die 1930’s ontwikkel. Voor dit het daar jaarliks ’n groot aantal perde aan dié siekte gevrek. Hy verwys spesifiek na ’n uitbreking in die 1850’s, waartydens meer as die helfte van die perdepopulasie in Suid-Afrika gevrek het.

Volgens dr Camilla Weyer, veeartsenykundige en logistieke bestuurder by South African Equine Health and Protocols, is daar net een geregistreerde entstof vir perdesiekte in Suid-Afrika, wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte vervaardig word. Die entstof bestaan uit twee inspuitings wat onderhuids toegedien word. Die tweede inspuiting moet minstens drie weke na die eerste toegedien word en albei inspuitings is baie belangrik, aangesien dit die dier teen verskillende perdesiekte-serotipes beskerm.

Die doeltreffendheid van die Afrika-perdesiekte-inenting ontlok baie kritiek vanuit die perdebedryf.

Die entstof het die afgelope paar seisoene groot kritiek ontlok en daar is heelwat kommer oor die doeltreffendheid daarvan. Die inenting veroorsaak ’n baie lae infeksie in die perd, wat dan ’n immuunrespons meebring. Die entstof het egter die potensiaal om terug te keer na die meer virulente stam waarop dit oorspronklik gebaseer was, en kan daarom moontlik siekte, asook siekte-oordrag vanaf die ingeënte perd na oningeënte perde, veroorsaak.

Geen ander entstof is egter kragtens die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947), of die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965) geregistreer vir die voorkoming van APS nie.

Prof Guthrie meen ’n goeie praktyk saam met inenting is om ’n insekweerder op perde te gebruik, spesifiek gedurende die somermaande. Die aanhou van ander diere soos beeste en skape in die nabyheid van perde kan ook tot ’n mate help om die verspreiding te beheer, aangesien die muggies dan hierdie diere byt.

Die aanhou van sebras op dieselfde eiendom as perde het volgens prof Guthrie geen invloed op die verspreiding van die siekte nie, aangesien die beweging vanaf sebras baie selde gebeur. Sebras en donkies kan met die virus besmet raak, maar toon geen kliniese tekens nie.

APS-sones in Suid-Afrika

Dele van die Wes-Kaap vorm die APS-beheerde gebied, wat in drie sones verdeel is: die vrye sone, die beheersone en die beskermingsone. Die beheerde gebied word as ’n laerisiko-gebied vir APS beskou en die wetgewing wat beweging binne en buite hierdie gebied beheer, is daarop gemik om te verseker dat APS nie hier posvat nie. Die res van die land val onder die APS-besmette gebied.

“Afrika-perdesiekte het veroorsaak dat die direkte uitvoer van perde nie in alle gevalle moontlik is nie. Deur onderhandelinge met ander lande, word daar aangedring dat ons bewys kan lewer dat ons ’n gebied het wat nie endemies vir APS is nie,” sê dr Weyer.

Die Afrika-perdesiekte-beheerde gebied in die Wes-Kaap, word as ’n laerisiko-gebied vir dié siekte beskou

In die beheerde gebied moet beweging beheer word om van maand tot maand te verseker dat APS nie hier versprei nie. Die klimaat in die Wes-Kaap is ook oor die algemeen ongunstig vir groot getalle muggies. Boonop het dié provinsie die infrastruktuur en ‘n lughawe om die uitvoer van perde en ’n uitvoerkwarantynstasie te ondersteun.

Hierdie gebied word in die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) bepaal. Dit is ’n spesifieke gebied waar die beweging van alle perde beheer word. Daarbenewens het inentingskontrolewetgewing beslis dat perde in die beheerde gebied slegs gedurende die laerisiko-tydperk – vanaf 1 Junie tot 31 Oktober – ingeënt mag word.

Die vervoer van perde buite hierdie beheerde gebied word nie beheer nie. “Dit is uiteraard nie ’n goeie idee om jou perd van ’n hoërisiko- na ’n laerisiko-gebied te verskuif nie, aangesien jy die virus bewustelik kan versprei en ander diere in gevaar kan stel,” sê dr Weyer.

Invloed van APS op uitvoere

Die perde-uitvoerbedryf in Suid-Afrika is ongeveer R250 miljoen werd. Sou die land egter toegelaat word om perde direk na die Europese Unie (EU) en ander bestemmings uit te voer, kan dit maklik R1 miljard beloop.

Nadat Suid-Afrika in 2013 ’n EU-ouditprotokol vir siektevoorkoming gedruip het, is direkte uitvoere verbied en word perde nou deur ’n moeilike proses na internasionale bestemmings uitgevoer. Dit het nie net die verlies aan inkomste vir telers en uitvoerders tot gevolg gehad nie, maar ook ’n negatiewe impak op Suid-Afrika se perdebedryf as geheel, aangesien die land se perde nie op internasionale vlak kan meeding nie.

Die laaste uitbreking in die beheerde sone was in 2016. “Deel van ons ooreenkoms met die EU vermeld spesifiek dat ons vir twee jaar nie ’n uitbreking in ons beheersone mag hê voordat uitvoere toegelaat sal word nie. Om ons uitvoere na die EU te heropen, moet ons stelsels en protokolle weer deur die EU geoudit word,” sê dr Weyer.

Hierdie oudit is nog hangende. Intussen moet perde wat na die EU uitgevoer word, eers vir ’n tydperk in Mauritius aangehou word. – Elmarie Helberg, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Camilla Weyer by camilla@saehp.com.