In ’n artikel op www.agriorbit.com en in die April-uitgawe van Veeplaas, skryf Andries Gouws dat ’n entstof teen snotsiekte waarskynlik nie voor 2020 beskikbaar gaan wees nie. Intussen het dié ekonomies belangrike en dodelike siekte ook na sommige seldsame wildspesies begin versprei. Tans is die enigste oplossing om die siekte te bekamp om wildebeeste, wat die siekte dra, af te sonder van vatbare spesies. Kliek hier om die volledige artikel te lees.

In reaksie op dié artikel skryf dr Pieter de Kock van die Afrikaner Beestelersgenootskap dat dié ras ’n bydrae tot die oplos van die probleem kan bied.

“Ons wil van die genootskap se kant af graag aanbeveel dat boere wat probleme met snotsiekte in hulle beeste het, die Afrikaner, wat ’n inheemse ras is, in hulle teelprogramme gebruik,” sê dr De Kock.

Hy meen dat dié ras as gevolg van die herkoms van die Afrikanerbees en die migrasie vanuit Asië en Noord-Afrika, deur die trope en die Tsetsevlieg-belt, deur die Noordelike Bosveld en Laeveld tot in die Kaap, bestand geraak het teen onder andere snotsiekte. “Aangesien geen amptelike navorsingsresultate beskikbaar is nie, moet ons staatmaak op data van boere en telers. As ons na dié data kyk, het ons egter geen twyfel hieroor nie.”

Dr De Kock sê dat gevalle van snotsiekte onder Afrikanerbeeste nog nooit by die genootskap aangemeld is nie. “Snotsiekte kom wel by Afrikaner-kruisings voor, maar tot ’n baie mindere mate.”

Indien meer inligting hieroor vereis word, is die name van beesboere wat die afgelope 40 jaar ’n gemengde bees- en wildboerdery sonder enige sterftes bedryf, beskikbaar. “Die name van boere wat beeste verloor het as gevolg van snotsiekte, maar geen verdere snotsiekte-sterftes gehad het nie nadat na Afrikaners oorgeslaan is, is ook beskikbaar.”

Die Afrikaner Beestelersgenootskap is dus oortuig dat die benutting van die Afrikaner-ras ’n oplossing vir die snotsiekte-probleem is. – Persverklaring