Afronding in die voerkraal

3890

Met die huidige lae mielieprys oorweeg al meer veeboere dit om self hul diere markgereed te maak en dan te verkoop. Daar is sonder twyfel meriete in die uitgangspunt dat ’n mens so lank as moontlik beheer oor jou produk moet hou. Hoe meer “middelmanne” jy kan uitskakel, hoe meer wins kan jy in jou eie sak steek.

Lenél Oosthuizen, voormalige voerkraalbestuurder van ’n groot voerkraalgroep in Harrismith, sê hierdie argument het dalk meriete, maar die afronding van vee is ’n spesialiteitsveld wat nie sonder voorbereiding en deeglike huiswerk aangepak moet word nie. Die winsgrense is eenvoudig te klein om foute toe te laat.

Lenél vestig die aandag op verskeie aspekte wat die sukses van ’n voerkraal kan bepaal.

Belangrikste aspekte

“Kos, water en skuiling is waarskynlik die belangrikste aspekte wat ’n mens in ag moet neem,” sê hy. “Wat voerkrippe betref, is die ideale afmetings vir ’n beesvoerkraal 150mm voerspasie per bees. Dis belangrik dat die krippe dreineer om ureumvergiftiging van water wat in die krippe bly staan, te voorkom.

“Die krippe moet ’n vloerhoogte van ten minste 150mm bo die vlak waarop die beeste staan hê, met ’n vloer waarop die beeste kan staan. Verder moet die krip só ontwerp wees dat ’n bees nie in die krip kan mis of ingestamp kan word nie. Die vloer moet gereeld skoongemaak word en die voerkrippe moet een keer per dag leeg gevreet wees.”

Die kraal self moet ’n stewige konstruksie wees en geen doringdraad mag gebruik word nie. Spasie van tussen 7 en 10m² per bees is optimaal. ’n Belangrike eienskap om in gedagte te hou, is ’n helling van 15 grade sodat die water kan afvloei. Geen water mag in die kraal bly staan nie.

“Krale moet gereeld skoongemaak word om ’n ophoping van mis te voorkom. Dik mis veroorsaak hoë energieverbruik, wat weer ’n invloed op groei het. So min as 10cm modder kan tot 15% verlies aan groei lei.”

Riglyne vir waterkrippe

Kuilvoer kan die voerkoste in ’n voerkraal beduidend verlaag.

Waterkrippe moet ten minste twee keer per week gewas word. Daar moet ook ’n vloer voor elke waterkrip wees waarop die diere kan staan as hulle suip. Hoë-druk watertoevoer is belangrik, en pype mag nie lek en nat kolle veroorsaak nie. Dit vorm dan ’n broeiplek vir vlieë, lewerslak en ander siektes.

“ ’n Handige wenk is om, nadat die krip uitgewas is, ’n handvol sout in die leë krip se bodem te strooi en dit vir sowat vyf minute te los voor dit weer vol water getap word. Die sout maak parasieteiers dood, en dit maak geen verskil aan die smaak van die water vir die diere nie.”

Beeste drink 40 tot 60 liter water per dag, wat beteken dat 6 000 liter per 100 beeste benodig word. Maak seker dat daar altyd watervoorraad vir ten minste drie dae beskikbaar is.

Kripbestuur en rantsoene

Lenél sê ’n voerkraal is ’n plek waar diere gevoer word, wat duidelik impliseer dat die voer ’n noodsaaklike element is – sowel die voersamestelling as die aanbieding van die voer. “Die regte rantsoen en kripbestuur kan ’n groot invloed op die winsgewendheid van ’n voerkraal hê.

“Rantsoene moet van hoë gehalte wees en in die voedingsbehoeftes van die diere voorsien. Die balans tussen vesel en energie moet reg wees, en die voer moet goed gemeng en smaaklik wees.

Rantsoene moet in drie fases gevoer word, naamlik ’n aanpassingsfase (nul tot 14 dae), ’n groeifase (15 tot 90 dae) en dan ’n afrondingsfase (laaste 30 dae).”

Aanpassingsrantsoen: In die aanpassingsfase moet die energievlakke laer en die veselvlakke hoër wees om skade aan die rumenwand te voorkom. Skade aan die rumenwand in hierdie fase het ’n geweldige invloed op die groeivermoë van die kalf later in die kraal, want die absorpsie-oppervlakte van die rumen word kleiner. Onthou dat die rumen se inhoud deur mikroörganismes afgebreek word. Bykomende ruvoer in die vorm van ’n baal moet in die aanpassingsfase voorsien word en voerbyvoegsels kan hier ’n groot invloed hê.

Groeirantsoen: In die groeifase word die energievlakke opwaarts en die veselvlakke afwaarts aangepas. Die mikrobes in die pens is nou gewoond aan hoë stysel en energie, en dit is nie meer nodig vir enige bykomende ruvoer nie.

Afrondingsrantsoen: In die afrondingsfase word die energiewaarde nog hoër en die veselvlakke laer. In hierdie fase word ’n beta-antagonis (Zilmax) aanbeveel teen die regte insluitingspeil. Dit moet slegs vir 30 dae aan uitgesoekte diere gevoer word. Die beeste gaan die laaste vyf dae voor slag terug op die groeirantsoen. Die rantsoen moet genoeg vog hê om nie weg te waai nie, so goedkoop as moontlik wees, elke dag konstant wees en gereeld getoets word.

Neem voermonsters

’n Voermonster word geneem as die voer in die krip gegooi word deur elke meter drie skeppies voer te neem – bo, in die middel en onder. Die skeppies voer word dan in ’n emmer gemeng en in ’n selfseël-sakkie geseël. Hou dit in die yskas totdat dit na die ontledingslaboratorium gestuur word.

“Gebruik kuilvoer, wat ’n baie maklike manier is om vog te verhoog en rantsoene goedkoper te maak,” sê Lenél. “Dit verg egter goeie bestuur en goeie kennis van die verbouing en inkuilingsproses van die graan. Hoë gehalte kuilvoer moet op die regte tyd gesny word en goed gekompakteer word. Dit kan tot 30% van die rantsoen beslaan.

“Volledige voervloeibeplanning is nodig om die behoefte en voorsiening te balanseer. ’n Bees vreet sowat 4% van sy liggaamsgewig en die gemiddelde voerinname kan tot 14kg per dag wees.”

Hoewel die afronding van ’n mens se eie beeste baie aanloklik lyk, moet jy besef dat ’n voerkraal ’n spesialiteitsveld is wat kundigheid verg.

Neem kriplesings

Kripbestuur is van kardinale belang en verg daaglikse aandag. Weeg die voer per kraal af, hetsy per sak of per kilogram.

Neem ’n kriplesing vroeg in die oggend en weer teen 12:00. Die kriplesing wissel van 0 tot 5.

  • 0: Blink gelek en leeg.
  • 1: ’n Melerige hoeveelheid voer is oor.
  • 2: ’n Kwart van die voer is oor.
  • 3: Die helfte van die voer is oor.
  • 4: Geen voer is gevreet nie.
  • 5: Die krip is oorvol.

Hoeveelheid voer

“Op grond van hierdie lesing word bepaal hoeveel voer vir die dag nodig is. Krippe moet een keer per dag leeg gevreet wees. Dit verhoed vrot kos en dwing beeste om te herkou. Speeksel bevat buffers wat voedingsteurnisse voorkom.

“Bereken jou dag van 12:00 in die middag tot 12:00 die volgende dag. As jy die kos afweeg, behoort 30% van die dag se voer tussen 07:00 en 10:00 gegooi te word, en 70% tussen 13:00 en 17:00. Die volle toedeling kan ook eenmalig afgelewer word.

“Kyk na die gedragspatrone van beeste en bepaal hierdeur of jou kripbestuur optimaal is. As jy reg voer, behoort die krip teen 12:00 leeg te wees en die beeste behoort te lê en herkou,” sê Lenél.

Vir meer inligting, skakel Lenél Oosthuizen by 082 851 1089. –Izak Hofmeyr, Veeplaas