Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie het in 2013 klein begin met slegs een rondte, maar het sedertdien gegroei tot ’n geloofwaardige kompetisie met streeksrondtes in byna elke provinsie. Deelnemers kry by die streeksrondtes die geleentheid om teen mekaar op die rostrum mee te ding, in die hoop om te kwalifiseer vir die nasionale rondte wat elke jaar by ALFA in Parys gehou word.

Dit is vanjaar die sesde agtereenvolgende jaar wat die afslaerskompetisie in samewerking met Plaas Media se tydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied word. Die sentrale streeksrondte in Bloemfontein sorg altyd vir groot opwinding en hierdie jaar was geen uitsondering nie.

Strawwe kompetisie

Die sentrale rondte was hierdie jaar net oop vir jong afslaers en vyf deelnemers het met hul afslaerstalent op die rostrum gewoeker. Die deelnemers was Bennie Steyn van BKB, Vincent Pike van OVK, Gerrit Strydom en Danie Haasbroek, albei van die Universiteit van die Vrystaat, en DB Nel van BKB. Hulle is deur Barco van Niekerk, 2018 se nasionale wenner, en Eppie Nel, ’n oud-deelnemer en bekende gesig in afslaerskringe, beoordeel.

Die top drie kandidate by die beoordelaars en seremoniemeester. Van links is Barco van Niekerk, 2018 se nasionale wenner en Bloemskou-beoordelaar, Eppie Nel, beoordelaar, Bennie Steyn van BKB, wenner, Jacques Cloete van Oranje Toyota, Lizz Meiring, seremoniemeester, DB Nel en Danie Haasbroek, deelnemers, en Pieter en Albert Loubser van Plaas Media. (Foto: Mario van den Heever)

Die kompetisie het vir die eerste keer in sy geskiedenis ook ’n seremoniemeester gehad. Die bekende aktrise Lizz Meiring, wat self ’n gekwalifiseerde afslaer is, het dié taak behartig. Lizz het haar afslaerskwalifikasie in 2011 by die Suid-Afrikaanse Afslaerskollege verwerf en hou haar lyf gereeld afslaer om geld in te samel vir die Teaterbystandsfonds (TBF). Die TBF is die uitvoerende kunste in Suid-Afrika se enigste hulpfonds en hul missie is om finansiële ondersteuning aan Suid-Afrikaanse kunstenaars te bied.

En die wenner is …

Na ’n taai Dexterbul-kammaveiling is Bennie Steyn van BKB as die wenner gekroon. Bennie is al verskeie jare by BKB betrokke as ’n skaap- en woldeskundige. Hy het in Junie 2018 saam met kliënte Australië besoek en dit is daar waar die afslaersgogga hom gebyt het.

“Altesaam 70 tot 80% van die ouens in Australië wat dieselfde werk doen as ek hier in Suid-Afrika, is ook afslaers. Hulle behartig die meeste boere se ramveilings omdat arbeid skaars is en hulle alles self moet doen,” sê hy.

Terug in Suid-Afrika het hy besluit om ’n afslaerskursus by die Suid-Afrikaanse Afslaerskollege te doen, en dit is die grootste rede waarom hy besluit het om aan die kompetisie deel te neem. “Ek koop baie ramme by veilings aan, maar dit is ’n ander gevoel om vir ’n slag aan die ander kant van die rostrum te staan.

“Ek is baie dankbaar en bly ek het die streeksrondte gewen. ’n Mens is maar op jou senuwees, maar ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou en sien uit daarna om die uitdaging verder te vat. Ek sien ook baie uit na wat die volgende rondte by ALFA 2019 gaan inhou,” sê hy.

Nasionale rondte

Bennie sluit aan by JP Marais en Freddie Breytenbach, wat onderskeidelik die Wes-Kaapse streeksrondte by Agri-Expo Livestock en die noordelike streeksrondte by die Castle de Wildt Landbou-, Wild- en Jagekspo gewen het. Die ALFA-ekspo vind hierdie jaar van 17 tot 19 September by die Afridome in Parys plaas.

Stone Rens, hanteerder, Eppie Nel, beoordelaar, Barco van Niekerk, 2018 se nasionale wenner en Bloemskou-beoordelaar, Jacques Cloete van Oranje Toyota, Bennie Steyn, wenner van die sentrale streeksrondte, en Albert Loubser van Plaas Media by Amadeus Snap, die Dexterbul wat vir die kammaveiling gebruik is. (Foto: Mario van den Heever)

Vir meer inligting oor deelname aan verdere bene van die kompetisie, skakel Michelle Verster by 083 375 4641 of stuur ’n epos aan michelle@plaasmedia.co.za. Klik op die skakel om meer te lees oor dié kompetisie.