Agbiz verwelkom president Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging dat die waarskuwingsvlak in die land van vlak 3 na vlak 2 verlaag word en dat die ekonomie sover moontlik oopgestel kan word, tesame met ooglopende maatreëls om die verspreiding van COVID-19 te bekamp.

Read it in English

“Die opheffing van die verbod op die verkoop van alkohol- en tabakprodukte is baie goeie nuus, en ons loof die regering vir hierdie noodsaaklike en weldeurdagte besluit,” sê dr John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz.

Ingevolge die regulasies onder waarskuwingsvlak 2, word die verkoop van tabakprodukte toegelaat, en alkoholverkope word van Maandag tot Donderdag tussen 09:00 en 17:00 in drankwinkels toegelaat, terwyl alkoholverkope in restaurante en kroeë tot 22:00 toegelaat word, ook oor naweke.

Tabak- en drankwaardekettings kan begin herstel

“Ons vertrou dat die bedrywe in die drank- en tabakwaardekettings nou kan begin herstel. Die regering sal egter die nodige stappe moet doen om die onwettige handel wat in die verbodstydperk gefloreer het, stop te sit.

Sedert die instelling van die beperkings in Maart, het baie belanghebbendes in hierdie bedrywe ernstige ekonomiese verliese en verlies aan mense se lewensbestaan aangeteken. Suid-Afrika se landbouwaardeketting speel nou ’n sentrale rol om ekonomiese groei en sosiale stabiliteit in die land te stimuleer, ook in hierdie spesifieke bedrywe.”

Bedryfsorganisasies speel sleutelrol in onderhandelinge

Dr Purchase sê sedert die ramptoestand en gepaardgaande grendeltyd in Maart aangekondig is, het Agbiz, in samewerking met ander bedryfsorganisasies, gereeld met die regering beraadslaag om die wynbedryf toe te laat om die 2020-oes te voltooi, en daarna om wynuitvoere en binnelandse verkope weer oop te stel.

“Ons rol en betrokkenheid in die dialoog by Nedlac, waar ons ’n nuwe sosiale ooreenkoms onderhandel het, het ’n sleutelrol gespeel om die regering te oortuig van die verwoestende gevolge wat die alkohol- en tabakverbod op die verskillende bedrywe en mense se lewensbestaan in die drank- en tabakwaardekettings gehad het, nie net in die landbousektor nie,” sê dr Purchase.

“Deur die Nedlac-platform het ons op die hoogste vlak met die regering, die sakewêreld, arbeid en die burgerlike samelewing onderhandel. Ons het saam met al hierdie sektore gewerk om ’n ooreenkoms te bewerkstellig om doelgerigte oplossings te vind vir die uitdagings verbonde aan alkoholmisbruik en die uitwerking daarvan op die gesondheidsektor se vermoë om COVID-19 die hoof te bied.

“Alhoewel ons tans in ’n toenemende onvolmaakte en onsekere wêreld leef, ook in Suid-Afrika waar skaamtelose korrupsie skynbaar geen perke ken nie, is konstruktiewe dialoog die enigste manier om ons land te herbou. Ons moet nou daarop fokus om ondernemings te red, mense se lewensbestaan te beskerm, beleggings te lok en werk te skep.” – Persverklaring, Agbiz