Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe vanjaar virtueel

728

Die sewende jaarlikse Agri-Expo Livestock en die Groot Plaasproe sal vanjaar virtueel aangebied word. Die Suid-Afrikaanse veebedryf sou vanjaar vanaf Donderdag tot Sondag (8 tot 11 Oktober) op Sandringham buite Stellenbosch saamtrek vir dié geleentheid, maar nou kan hulle dit vanuit enige plek in die land aanlyn bywoon.

In die lig van die huidige ekonomiese klimaat, onsekerhede oor die hervatting van geleenthede en veral die impak wat die koronavirus-pandemie nog lank op maatskappye sal hê, het Agri-Expo besluit om alle beplande geleenthede vir 2020 virtueel aan te bied. Só sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van dié landbougenootskap.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons vertoners, uitstallers, vennote en die publiek om nie by te dra tot verdere onsekerhede nie en daarom kondig ons hierdie besluit vroegtydig aan,” sê Ehlers.

“Ná die sukses van Agri-Expo se eerste virtuele aanbieding van die Suid-Afrikaanse Kaasfees van 25 tot 27 April 2020, glo ons dat ons vanjaar wel baie waarde kan toevoeg deur nóg nuwe virtuele platforms aan entrepreneurs, besighede en landbou-organisasies soos telersgenootskappe te bied.”

Volgens Ehlers beplan Agri-Expo ’n opwindende drie dae lange virtuele byeenkoms vanaf Vrydag 9 Oktober tot Sondag 11 Oktober 2020, met hope inligting en vermaak.

“Die doel van Livestock is om vir Suid-Afrika se top telers ’n wêreldstandaard-platform te gee om hul diere te skou en die rasse te bemark, maar ook om die jeug te betrek by verskillende fasette van die landbousektor. Opleiding en kennisoordrag vorm ’n integrale deel van die ekspo, wat op virtuele vlak ook ’n groot impak kan hê.”

Die volledige program sal op www.livestock.org.za en www.diegrootplaasproe.co.za aangekondig word.

Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za. – Persverklaring, Agri-Expo