Die sesde jaarlikse Agri-Expo Livestock en Groot Plaasproe, wat vanjaar van 10 tot 13 Oktober by Sandringham duskant Stellenbosch plaasgevind het, was weereens ’n groot sukses. Die geleentheid het bykans 15 000 besoekers gelok. Altesaam 30 verskillende kampioenskappe, kompetisies en ander aktiwiteite het op die program gepryk. Besoekers kon hulle verkyk aan topdiere uit topkuddes.

Die Agri-Expo Livestock 2019 BKB Rooivleiskoningin, Windmeul Red Anny 1403-et. Van links na regs is Desmond Veldhoen, Debbie en Theuns Bruwer van Windmeul Angus, Niel Jordaan, BKB se bestuurder van lewendehawe en afslaersdienste in die westelike distrik, en Fraenkie Doman, hanteerder.

Volgens die uitvoerende hoof van Agri-Expo, Johan Ehlers, is dit verblydend dat daar te midde van die voortslepende droogte en onseker ekonomiese toestande, steeds soveel belangstelling was. Hoogtepunte op vanjaar se program was die vleisbeesinterraskampioenskap, haasskou, suiwelinterraskampioenskap, melkbokskou en skoleprogram. Laasgenoemde het uitstekende aftrek gekry. Meer as 3 000 deelnemende skoolkinders kon hulle verluister aan praatjies oor beroepsgeleenthede in die landboubedryf.

Die Agri-Expo Livestock 2019 FNB Suiwelkoningin, Puttergill Deann Gardena 034. Van links na regs is Brett en Demi Puttergill van CS Puttergill & Sons, Breyton Milford, operasionele bestuurder by Agri-Expo, en Arno Cloete, streeksbestuurder van FNB Landbou in die Wes- en Oos-Kaap.

Ander belangrike geleenthede wat ook deel van die program uitgemaak het, was die Melkprodusente-organisasie se nasionale galadinee en die Landbounavorsingsraad se nasionale meestersuiwelboer-toekenningsgeleentheid.

Plaas Media was ook by die ekspo teenwoordig as mediaborg en uitstaller. Lynette Louw, Albert Loubser, Deidré Louw en Hugo Lochner het Agri-Expo Livestock namens Plaas Media bygewoon.

Aanstaande jaar se ekspo sal van 1 tot 4 Oktober by Sandringham plaasvind. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za of www.diegrootplaasproe.co.za. – Lynette Louw, Plaas Media