‘n Wêreldklastentoonstelling van die Suid-Afrikaanse veebedryf en sy waardekettings wag op besoekers aan die sesde Agri-Expo Livestock, wat vanjaar van 10 tot 12 Oktober 2019 op Sandringham buite Stellenbosch plaasvind.

Livestock is oor die afgelope vyf jaar gevestig as een van die mees toonaangewende veetentoonstellings in die land, waar besoekers topdiere van verskeie rasse kan sien meeding met sowat 20 telersgenootskappe wat betrokke is.

Read it in English.

Die grootste vleisbeesinterraskampioenskap

Livestock speel gasheer vir die grootste suiwelskou in Suid-Afrika én die grootste vleisbeesinterraskampioenskap van sy soort, met die kroning van die FNB-Suiwelkoningin en die BKB-Rooivleiskoning op Saterdag, 12 Oktober as die hoogtepunt. Livestock is veral gesog vir sy suiwel-interrasskou wat deur die grootste drie suiwelrasse, die Holstein-, Ayrshire- en Jersey-telersgenootskappe, ondersteun word.

Rikus van Wyk van Porterville, wat verlede jaar die suiwelkampioenskap gewen het, beskryf Livestock as “van internasionale gehalte, met ‘n uitsonderlike atmosfeer”. Andrew Masterson van die Oos-Kaap, wat die vleisbees-interraskampioenskap vir die tweede jaar in ‘n ry gewen het, sê Livestock is die “beste bemarkingsgeleentheid vir die bedryf” met “eersteklas geriewe” en ‘n “hemelhoë standaard waar jy jouself teen die beste meet”.

Gratis raad en opvoedkundige programme

Klein- én kommersiële boere kan gratis raad van kundiges bekom tydens Livestock se gewilde inligtingsdae, ondersteun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Standard Bank. Melkbokboere – en enigeen wat in kleinveesuiwel belangstel – kan by kenners kers opsteek op Donderdag, 10 Oktober, terwyl ‘n vleisbeesinligtingsdag met interessante sprekers soos Llewellyn Angus op Vrydag, 11 Oktober aangebied word.

Sowat 2 500 laer- en hoërskoolleerders besoek jaarliks die ekspo vir ‘n gratis landbou-opvoedkundige program, ondersteun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Die program sluit interaktiewe stasies in waar leerders onder andere kan sien hoe koeie gemelk word, waar hulle diere kan aanraak, en hulle meer kan leer oor landbouberoepsgeleenthede, onder meer deur die WKDL se Connect Agri-uitstalling.

Verskeie vermaak en kompetisies

‘n Eerste by vanjaar se Livestock is ‘n skou deur die Wes-Kaapse Arabierperdklub. Die program sluit ook die Wes-Kaap Melkbokkampioenskap, die Old Mutual Insure Streeksjeugskou, die Landbouweekblad-uitdaging vir versorgers en hanteerders, die Cape Rabbit Club se Lenteskou, die derde jaarlikse Suid-Afrikaanse Werkende Skaaphondveiling en ‘n verskeidenheid ander aktiwiteite in.

Verskeie stalletjies sal plaaskos, wyn en boetiekbier verkoop as deel van die Groot Plaasproe, wat vanjaar op 12 en 13 Oktober aangebied word. Die naweekprogram sluit ook braaikompetisies, optredes deur gewilde kunstenaars en lyndansvertonings in.

Livestock vind daagliks van 09:00 tot 17:00 plaas. Besoek www.livestock.org.za vir die volledige program. Kaartjies is by Computicket en by die hek beskikbaar teen R120 vir volwassenes, R60 vir pensioentrekkers (Donderdag en Vrydag), R30 vir skoliere (gratis Donderdag en Vrydag) en gratis vir kinders onder ses jaar. – Persverklaring, Agri-Expo

Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.