Agri-Expo sê SIYABONGA vir landbou

323
Johan Ehlers van Agri-Expo, dr Mogale Sebopetsa en Jerry Aries van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, en Breyton Milford van Agri-Expo, vier die nuwe virtuele SIYABONGA-inligtingsprojek vir produsente met die oorhandiging van twee spekbome.

Die opwindende Agri-Expo-inligtingsdae wat jaarliks tydens Agri-Expo Livestock buite Stellenbosch aangebied word, het ’n nuwe baadjie aangetrek en staan nou as SIYABONGA-dae bekend. Wat dit nog meer besonders maak, is dat dié geleenthede nou in verskillende streke plaasvind en regstreeks uitgesaai word, sodat boere van oraloor kan deelneem.

’n Nuwe platform om produsente op grondvlak te bereik

Agri-Expo het in Oktober 2020 die eerste drie SIYABONGA-dae in Beaufort-Wes (2 Oktober), Grassy Park (9 Oktober) en Clanwilliam (16 Oktober) aangebied.Dié dae is daarop gemik om basiese landbou-inligting in ’n unieke formaat aan produsente deur te gee, waar boere ’n platform met kenners in die bedryf deel, die geleentheid kry om vrae te vra en sodoende met meer kennis na hul boerderye terug te keer en uiteindelik meer produktief te wees.

“Die COVID-19-pandemie het baie landbougeleenthede aan bande gelê en om met innoverende maniere die landbougemeenskap te bereik is nie maklik nie, maar dit is presies wat ons met die SIYABONGA-dae doen,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo. “Ons moet aanpas en die geleenthede benut wat tegnologie ons bied, maar ons moet ook mense op grondvlak bereik.

Van links is Breyton Milford van Agri-Expo, Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, Leon Kruger van die Universiteit van die Vrystaat, Donald Mouton van Fairview, Renshia Manuel van GrowBox, Chris Hartzenberg van Africa Community Projects Daycare, en Jerry Aries van die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

“Hoekom SIYABONGA? Siyabonga beteken dankie, en wat is meer gepas as om vir die produsente van Suid-Afrika dankie te sê in ’n tyd waarin landbou so baie vir ons land beteken? SIYABONGA is ook ’n akroniem vir ‘Sharing Information to improve Yields in Agriculture for a Better-Off Next Generation of Agriculturalists’.”

Inligtingsdae ondersteun kleinboere in die Wes-Kaap

Agri-Expo se inligtingsdae word sedert 2014 in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied en is reeds ’n instelling by veral kleinboere in die Wes-Kaap. Hierdie sewe jaar lange vennootskap is ’n bewys van hoe die regering en privaatsektor saam kan werk om landbouers te bemagtig.

“As die Wes-Kaapse Departement van Landbou, is ons hier om die landbousektor te dien,” sê dr Mogale Sebopetsa, die departementshoof. “Ons wil graag die nodige ondersteuning aan ons boere bied om produktiwiteit te verbeter en voedselsekerheid te verseker.”

Die Agri-Expo SIYABONGA-dae, met 16 sprekers wat raad oor droogtebestuur, voeding, vennootskappe, stedelike boerdery en gemengde boerdery gee, kan steeds gratis by www.livestock.org.za besigtig word. – Persverklaring, Agri-Expo