SIYABONGA-dae
’n Groep produsente tydens ’n vorige inligtingsdag, nou bekend as Agri-Expo se SIYABONGA-dae.

Die opwindende Agri-Expo-inligtingsdae wat jaarliks tydens Agri-Expo Livestock buite Stellenbosch aangebied word, het ’n nuwe baadjie aangetrek en staan nou as SIYABONGA-dae bekend. Wat dit nog meer besonders maak, is dat dié geleenthede nou in verskillende streke sal plaasvind én regstreeks uitgesaai sal word, sodat produsente van oraloor kan deelneem.

Die SIYABONGA-dae is daarop gemik om basiese landbou-inligting in ’n unieke formaat, waar produsente ’n platform met kenners in die bedryf deel, deur te gee. Produsente kry ook die geleentheid om vrae te vra en sodoende met meer kennis na hul boerdery terug te keer en uiteindelik meer produktief te wees.

Die inligtingsdae was oor baie jare van die suksesvolste platforms tydens Agri-Expo Livestock en daarom is hulle opgewonde om die SIYABONGA-dae nou na produsente te neem, sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo.

Nuwe manier om die landbougemeenskap te bereik

“Die COVID-19-pandemie het baie landbougeleenthede aan bande gelê en om die landbougemeenskap met innoverende maniere te bereik is nie maklik nie, maar dit is presies wat ons met die SIYABONGA-dae doen. Ons moet aanpas en die geleenthede benut wat tegnologie ons bied, maar ons moet ook mense op grondvlak bereik.

“Hoekom SIYABONGA? Siyabonga beteken ‘dankie’ en wat is meer gepas as om vir die boere van Suid-Afrika dankie te sê in ’n tyd waar landbou so baie vir die land beteken. SIYABONGA is ook ’n akroniem vir ‘sharing information to improve yields in agriculture for a better-off next generation of agriculturalists’.”

Vennootskap tussen die regering en privaatsektor duur voort

Agri-Expo se inligtingsdae word sedert 2014 in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied en is reeds ’n instelling by veral kleinboere in die Wes-Kaap. Die SIYABONGA-dae bied die ideale geleentheid aan die departement om na produsente in die provinsie uit te reik met inligting oor hoe om meer produktief te wees en terselfdertyd ook die departement se ondersteuningsprogramme bekend te stel. Hierdie sewe jaar lange vennootskap is ook ’n bewys van hoe die regering en privaatsektor saam kan werk om landbouers te bemagtig.

Volgens Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, vind die eerste drie SIYABONGA-dae in Beaufort-Wes, Grassy Park en Clanwilliam plaas. “Nie net is die naam verander nie, maar weens COVID-19 wat Agri-Expo Livestock aan bande gelê het, word die SIYABONGA-dae nou in verskillende streke aangebied om die inligting na diegene te neem wat hierdie dae in die verlede getrou ondersteun het.”

Weens die beperking op getalle kan slegs ’n sekere aantal produsente genooi word om die geleenthede by te woon, maar produsente en belangstellendes kan gratis aanlyn inskakel, vrae vra en deelneem aan die gesprekke deur by www.foodformzansi.co.za/siyabonga-registration/ te registreer.  

Beaufort-Wes SIYABONGA-dag: 2 Oktober, 10:00 – 13:00

Beaufort-Wes se program fokus op bestuur en voedingsbeginsels om droogtes te oorkom, asook vennootskapsgeleenthede in die Karoo. Dr Louis du Pisani, ’n kenner van droogtetoestande, sal die gesprek oor bestuur lei, waarna Hans Greeff, ’n dosent aan die Grootfontein Landboukollege, oor die korrekte voeding in hierdie tye gesels. Konsortium Merino en die Sybokhaar Bemagtigingstrustsal samewerkingsgeleenthede bespreek.

Grassy Park SIYABONGA-dag: 9 Oktober, 10:00 – 13:00

In Grassy Park is die programfokus op kleinskaalse boere in ’n stedelike omgewing. Die skrywer van die boek Boer met Kleinvee, Leon Kruger, sal raad gee oor produktiewe bestuur in beperkte ruimtes. Donald Mouton, plaasbestuurder van Fairview in die Paarl, sal gesels oor watter diere in watter omstandighede aanpas. Inspirasie kom van Carol Kirkwood Pretorius, ’n bekroonde vroueboer van die Ceres-Karoo, asook van ’n klein skool met ’n groot landbouhart in Belhar, ’n Kaapse voorstad.

Clanwilliam SIYABONGA-dag: 16 Oktober, 10:00 – 13:00

Clanwilliam kan uitsien na kundiges se raad oor gemengde boerdery. Wintergrane is onder bespreking deur Graan SA, waarna die fokus sal skuif na die voordele van wolproduksie deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). Daarna volg ’n praktiese demonstrasie met riglyne oor waarna om te kyk by kleinvee, asook ’n bespreking van verskillende skaap- en bokrasse. Die bekende rooibosboer, Niklaas Slinger, sluit die program af met raad, inligting en motivering.

Die programme in Beaufort-Wes en Clanwilliam word in Afrikaans aangebied, maar vrae kan in Engels gestel word, terwyl die program in Grassy Park in Engels plaasvind, maar vrae ook in Afrikaans gestel kan word.

Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za, besoek  www.agriexpo.co.za en www.livestock.org.za, en volg Agri-Expo op sosiale media. – Persverklaring, Agri-Expo