Agri Gauteng het pas hul vier finaliste vir die Agri Gauteng jongboer van 2019 bekendgemaak. Agri Gauteng het die vier finaliste se name tydens hul jongboerkongres op 7 Junie in Cullinan bekendgemaak. Hier is ‘n voorsmakie van die vier finaliste en hul doen en late. Hou ook Grootplaas in Julie dop vir onderhoude met hulle.

Rita-Theresa du Plessis Van der Mescht

Rita-Theresa boer saam haar pa op ‘n plaas tussen Gauteng en Mpumalanga. Shirita Boerdery is ‘n familiebesigheid met meer as 35 jaar se geskiedenis as grondslag. Die boerdery is oorspronklik deur Rita-Theresa se pa begin. Hulle boer hoofsaaklik met mielies en beeste.

“Met topgehalte saad en beeste kan ons topgehalte mielies en vleis produseer,” sê sy.

Dié familiebesigheid ondersteun ekologies- en sosiaal-volhoubare landbouprojekte. Haar visie vir die toekoms is om Shirita Boerdery te verbeter. “Ek wil die boerdery groei en koester om sodoende iets groter en beter na te laat vir die volgende generasie.”

Brian Venema

Brian bedryf Rosaly Boerdery saam sy pa en broer. Die plaas is ‘n familiebesigheid wat in 1994 begin is. Hulle het aanvanklik met 27ha begin en bestuur en boer tans op 3 200ha.

Hulle is groenteboere wat verskeie groentes verbou. Dit sluit wortels, slaai, kool, pampoen en sopgroente in. Brian sê dat dit al van kindertyd af sy passie en droom was om te boer.

“Elke dag is ‘n nuwe uitdaging, maar ek pak dit aan en doen dit met graagte. Ons streef elke dag daarna om gehalte produkte en uitstekende diens aan ons kliënte te lewer.”

Hy het groot drome vir die toekoms van Rosaly Boerdery en wil graag goeie groente bemark wat met toegewyde passie gegroei is.

Anita Browne

Anita Browne boer al vyf jaar lank op Greenway Farms in Gauteng. Greenway is ‘n familiebesigheid wat 15 jaar terug deur haar pa begin is. Greenway Farms is ‘n gespesialiseerde wortelboerdery in drie verskillende produksie-areas wat hulle in staat stel om dwarsdeur die jaar topgehalte wortels te produseer.

Haar visie vir die toekoms is om Greenway uit te brei sodat sy eendag iets besonders aan haar en haar familie se nageslagte kan oorlaat.

“My benadering and deursettingsvermoë het dit moontlik gemaak vir my om Greenway Farms te groei tot wat dit vandag is. Ek glo ook dat die bydrae wat ek maak, die besigheid gehelp het om meer doeltreffend te wees en dat ek ook ‘n positiewe impak op die mense om my het,” sê Anita.

Lizemari de Klerk

Lizemari bedryf haar eie Brahman-stoet, De Blanque Brahman, naby Onderstepoort. Topgehalte genetika word die afgelope paar jaar gebruik en De Blanque word as een van die vooraanstaande stoettelers in die land beskou.

Die kudde het die afgelope twee jaar bekende groot skoue se junior- en seniorklasse gewen. Buiten die Brahmanstoet boer sy ook kommersieël saam haar pa met Pedi-skape en Boerbokke.

Sy is passievol oor boerdery en die gemeenskap, en stel gereeld haar geriewe en personeel beskikbaar vir die opleiding van nuwe landboutoetreders in die gemeenskap en omgewing.

Agri Gauteng gaan op 4 en 5 Julie plaasbesoeke by die finaliste aflê en die Gauteng wenner word op 22 Augustus by Agri Gauteng se jaarlikse kongresdinee bekendgemaak. – Michelle Verster, AgriOrbit