Agri Limpopo wil sy boerelede en vennote vir ‘n suksesvolle 2019 kongres bedank. Die jaarlikse kongres is ‘n belangrike geleentheid om strategiese sake te bespreek.

Agri Limpopo wil beide Piet Engelbrecht met sy verkiesing as president en Lodewyk de Jager met sy verkiesing as adjunkpresident, gelukwens.

Die belangrike rol van georganiseerde landbou

“Die presidentskap is ‘n groot eer en ‘n voorreg, veral omdat ek oortuig is georganiseerde landbou het ‘n belangrike rol om te speel,” sê Piet Engelbrecht, Agri Limpopo se president. “Ons is bewus van al die uitdagings wat produsente in die gesig staar, maar ek glo ons kan die probleme stelselmatig en verantwoordelik aanpak.”

Piet Engelbrecht het voorheen as waarnemende president opgetree en is onbestrede as president verkies. Piet is ‘n sitrusboer in die Loskop-area, Marblehall en jarelange lid van Agri Limpopo.

‘n Positiewe vooruitsig

“Ons is opgewonde om Agri Limpopo te groei en sodoende beter diens aan produsente te kan lewer,” sê Lodewyk de Jager. “Ons is ‘n taamlike nuwe span met baie energie en die wil om ‘n sukses van die volgende jaar te maak.”

Lodewyk de Jager is ‘n sitrus- en besproeiingsgewasboer in die Watervalsriviervallei, Burgersfort. Die 2019 Agri Limpopo-kongres is die nuut-aangestelde uitvoerende hoof se eerste kongres.

“Die positiewe energie binne landbou en Limpopo is ongelooflik,” sê Deidre Carter, uitvoerende hoof van Agri Limpopo. “Die kongres was ‘n uitstekende geleentheid om nouer met ons boerelede te skakel. Die gevoel by die kongres was duidelik dat daar ‘n groter behoefte is vir samewerking binne landbou, maar ook met ander belanghebbendes.”

Agri Limpopo het onder meer by die kongres besluit om sy naam te behou, en die vorige besluit om na Limpopo Landbou te benoem, afgekeur. – Persverklaring, Agri Limpopo

Produsente in Limpopo wat graag betrokke wil raak kan gerus Deidre Carter by 082 831 9168 skakel vir meer inligting.