Suid-Afrika (SA) het ʼn landelike strategie nodig wat op ekonomiese beginsels gegrond is. Daar is baie jongmense in die landelike gebiede wat geen hoop op ʼn toekoms het nie. Dit is tyd om hard met politici oor wetgewing en aanpassings wat nodig is om vinniger en baie meer arbeidsintensief te groei, te praat.

Samelewings in nood het georganiseerde landsburgers nodig, maar gegewe die toestande in die land, kruip baie weg in hul gemaksone en sê daar is niks wat hulle aan die situasie kan doen nie. Die feit is dat die gemeenskap sal moet organiseer en betrokke raak, nou meer as ooit.

Anne Bernstein, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemings, het aan Agri Limpopo se kongresgangers gesê dat uitdagings waarmee die sentrum hom besig hou is soos volg:

  • Die land vergoed die armes vir hul uitsluiting eerder as om dag en nag te werk om hulle in te sluit.
  • SA het werksgeleenthede nodig vir die arbeidsmag wat ons het en nie vir hooggeskoolde arbeidsmag wat ons wens ons gehad het nie.
  • ʼn Ongeskoolde, laagbesoldigde werksgeleentheid is haar insiens beter as geen werk nie.

Bernstein het na die ekonomiese herstelplan van die regering verwys en gesê as ’n mens krities daarna kyk, is die kans dat dit gaan slaag skraps. ʼn Nuwe benadering is nodig wat die struikelblokke van korrupsie, wanbestuur, voete sleep en leë beloftes uit die weg ruim.

“Ons land is diep in die moeilikheid, maar ek dink ons kan dit omdraai en Agri Limpopo kan ʼn belangrike rol hierin speel. Moenie subtiel wees nie. Dinge moet in julle streek en in die land gebeur, maar maak dit duidelik dat die reëls sal moet verander. Ons moet die nagenoeg 50% van die bevolking wat uitgesluit is en in armoede leef, hierby insluit,” het sy gesê. – Andries Gouws, AgriOrbit