Agri Limpopo wil die kloof oorbrug

255
Van links na regs is Piet Engelbrecht, die nuwe voorsitter van Agri-Limpopo, Lindie Stroebel en Pieter Vorster.

As verskillende belanghebbendes – van die regering en kommersiële boere tot by tradisionele leiers – die kloof wat hulle skei kan oorbrug en gemeenskaplike grond en doelstellinge kan vind, het landbou die potensiaal om ‘n soliede grondslag vir ‘n rooskleurige en kollektiewe toekoms te lê.

Agri Limpopo wil graag daardie brug wees, het Piet Engelbrecht, nuwe voorsitter van Agri Limpopo op die kongres gesê. Daar is egter ‘n paar brandende kwessies wat oorkom moet word en sterk vennootskappe is nodig die probleme teen te werk, die impak van ander te versag en aan te pas by die risiko’s van sommige.

Veilige landsgrense, landelike veiligheid, bestendige waterbronne, ontwikkeling in die platteland en brûe bou tussen gemeenskappe – dit is van die prioriteite wat nagejaag gaan word.

Dr Brand Pretorius.

Leiers moet by hul beginsels hou

Dr Brand Pretorius, bekende sakeleier en gasspreker, het gesê die land en die landbou het sterk leierskap nodig – leiers wat nooit hul beginsels gerieflikheidshalwe of tot eie voordeel sal laat vaar nie, wat met ‘n ferm hand en kreuklose voorbeeld kan lei en in liefde kan meewerk om die mikpunte te bereik.

Eienskappe wat hy glo wat in die praktyk werk, is positiewe en vreeslose leiding met ‘n duidelike oogmerk. Die leier moet:

  • Verandering omarm, want dit is die prys van vordering;
  • Lei met energie en passie, want dit is aansteeklik;
  • Lei met integriteit waar daar geen ruimte vir grys gebiede is nie;
  • Seker maak almal weet wat die gemeenskaplike doelwitte is en saam werk daaraan;
  • Die regte waardes naleef deur self die voorbeeld te stel; en
  • ‘n Prestasiekultuur skep.

In die moderne omgewing met talle kulture kan ‘n sterk leier nie kompromieë aangaan om gevoelens te sus nie. Maak ‘n lys van jou beginsels en lees dit gereeld.

‘n Uitdagende markomgewing wag

Lindie Stroebel, hoofbestuurder van die PMA oftewel Produce Marketing Association, het die gehoor sprakeloos gehad met haar voorspelling van hoe bemarking in die toekoms kan verloop. Sy voorsien ‘n wêreld waar feitlik alle aankope aanlyn gedoen en binne ‘n uur of twee afgelewer sal word. Dié nuwe omgewing gaan groot uitdagings vir die landbou inhou.

ʼn Globale markplek is ons voorland en mense wat byvoorbeeld produkte of handelsmerke met beelde wil adverteer, sal moet onthou dat talle Oosterlinge, waar die groot markte lê, van regs na links lees. Hierdie beelde sal dus reg geplaas moet word.

Sy het gesê plaaslik beland tot 50% van produkte op straatmarkte. Die ekonomie van die informele mark word onderskat. Terselfdertyd moet meer inligting aan die verbruiker gebied moet word rondom produkte, want jongmense wil weet wat hulle eet.

Verskeie ander sprekers het boere ingelig oor die ekonomie, waarmee Agri SA hom besig hou en watter vordering die organisasie se kundigheidsgroepe maak. – Andries Gouws, Plaas Media