Agri SA en sy verskillende affiliasies het vandeesweek met sy deelname aan die Grondwetlike Hersieningskomitee se openbare verhore oor grondonteiening sonder vergoeding begin. Dié verhore het vandeesweek in die Noord-Kaap en Limpopo afgeskop.

“Agri SA verwelkom die sterk leierskap deur die komiteevoorsitter, Vincent Smith, by gister se openbare verhoor in Marble Hall, Limpopo, toe die verrigtinge deur ’n oproerige groep ontwrig is. Ons moedig deelnemers aan om geduldig te wees en konstruktief insette te lewer,” sê Omri van Zyl, die uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Agri SA het reeds sy geskrewe voorlegging aan die Grondwetlike Hersieningskomitee gestuur en ons provinsiale affiliasies het ook die geleentheid gebruik om aan die proses van openbare deelname deel te neem.”

Henk van Wyk, president van Agri Noord-Kaap, het Dinsdag sy organisasie se insette in Springbok in die Noord-Kaap by ’n openbare verhoor gelewer. Willem van Jaarsveld, die uitvoerende hoof van Agri Limpopo, het Woensdag tydens ’n openbare verhoor in Marble Hall, Limpopo, sy kommer oor die voorgestelde wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) uitgespreek.

“Artikel 25 is nie die rede vir die stadige pas van grondhervorming in Suid-Afrika nie. Ons is bekommerd dat ’n verandering in die wetgewing landbou in Limpopo in gedrang sal plaas,” het Van Jaarsveld aan ’n volgepakte Ephraim Mogale-stadsaal gesê. “Ons is verbind daartoe om dit vir almal in die land te laat werk.”

Die openbare verhore sal tot Augustus voortduur. Agri SA moedig belanghebbendes aan om van dié geleentheid gebruik te maak om hul menings te lug. – Persverklaring