Die onwettige handel in tabakprodukte het aansienlik toegeneem oor die afgelope weke. Die breër publiek neem kennis hiervan en word ook deur die media ingelig oor die onwettige handel in tabakprodukte wat tans op ’n ongekende skaal toeneem.

Lees dit in Engels.

Volgens News24, het die polisiewoordvoerder, brigadier Motantsi Makhele, bevestig dat ’n 39-jarige man wat onwettige sigarette ter waarde van R636 800 vervoer het, op Vrydag, 22 Mei in Botshabelo in die Vrystaat in hegtenis geneem is. Die polisie het agt bokse vol onwettige sigarette in die voertuig gevind.

Die nuusagentskap, IOL, het op Donderdag, 7 Mei berig dat metropolisiebeamptes in Bellville op sigarette ter waarde van R750 000 beslag gelê het.

Volgens ’n SAPD-nuusverslag het polisiebeamptes van die eThekwini-Sentraalse klustertaakspan drie mans tussen die ouderdomme van 29 en 36 gearresteer nadat ’n groot hoeveelheid sigarette op 3 Mei 2020 ontdek is. Beslag is gelê op 71 houers tabak, voorgeskrewe medikasie en onwettige sigarette. Die gesamentlike waarde van die items beloop ongeveer R800 000. Die verdagtes is aangekla van handel in onwettige sigarette.

Koop van onwettige sigarette

Bogenoemde voorbeelde dui daarop dat die besluit om ’n verbod te plaas op wettige tabakverkope nie die nodige gesondheids- en maatskaplike uitkomstes tot gevolg gehad het nie. Rokers koop nou op groot skaal onwettige sigarette wat nie voldoen aan die bedryf en regering se veiligheidstandaarde nie. Daar is ook bevind dat hierdie produkte skadelike bestanddele en chemikalieë bevat wat selfs ’n groter gesondheidsrisiko vir rokers inhou.

Agri SA doen ’n dringende beroep op die regering om die verbod op formele handel in tabakprodukte op te hef. Dit is nou duidelik dat die verbod geen doel dien nie, aangesien verbruikers nie opgehou rook het nie. Dit is ook duidelik dat die wettige tabakwaardeketting en die betrokke werkers geweldige ekonomiese skade ly.

Impak op belastinginkomste

Die staat verloor maandeliks belastinginkomste ter waarde van ongeveer R1,5 miljard. Die enigste wenners is diegene wat voordeel trek uit onwettige handel. Dit dra beslis nie by tot die pogings om die verspreiding van die virus te voorkom nie en sal geensins die ekonomiese skade van die inperking herstel nie.  

Agri SA is ten volle daartoe verbind om uitvoering aan alle pogings en regulasies te gee wat ten doel het om die virus en die dodelike impak daarvan te mitigeer. Sodanige pogings en regulasies moet egter rasioneel, logies en in lyn met internasionale goeie praktyke wees. Dit is tans nie die geval in Suid-Afrika nie. Die regering moet nou beslis optree om sy geloofwaardigheid onder die publiek te herwin. – Persverklaring, Agri SA