Agri SA doen ’n beroep op die regering om dringend ’n ondersoek te loods na die voortslepende tekort aan dieselvoorsiening aan verskeie bedrywe. Een van die hoofredes hiervoor is die voortdurende vandalisme en diefstal van diesel deur goed georganiseerde sindikate uit die dieselpyplyn vanaf Durban na Johannesburg. Dit veroorsaak ernstige probleme vir Transnet ten opsigte van die bestuur en instandhouding van die pyplyn.

Dit het ook daartoe gelei dat diesel met vragmotors vanaf ons hawens vervoer moet word, wat die koste verhoog. Produsente wat tans produkte soos mielies, sitrus en ander gewasse oes word veral ernstig benadeel weens die verhoging in koste en beperkte beskikbaarheid van diesel in sekere provinsies.

Werklike stand van dieselvoorsiening

Agri SA monitor die onderbreking in dieselvoorsiening reeds van die begin af en neem deel aan weeklikse gesprekke met die Suid-Afrikaanse Petroleumnywerheidsvereniging (SAPIA) om terugvoer te ontvang asook die stand van voorraadtekorte wat deur ons lede in elke provinsie ervaar word, bekend te maak.

Die situasie op die grond verskil egter van die prentjie wat dikwels deur diegene verantwoordelik vir die bestuur van dieselvoorsiening geskilder word, naamlik dat daar genoeg diesel beskikbaar is. Produsente sukkel om diesel vir oesdoeleindes te koop. Dit is ook die geval in talle ander bedrywe.

Impak op die landbou

Die landbouwaardeketting is tot ’n groot mate afhanklik van diesel vir oesdoeleindes en om hul produkte na afsetgebiede te vervoer. Onderbrekings in dieselvoorsiening kan dus die hele bedryf benadeel. Produsente in die noordelike dele van die land is tans besig om somergrane te oes. Gegewe die huidige sterk vraag na witmieliemeel, kan ’n volgehoue dieseltekort ’n negatiewe impak op voedselsekerheid hê.

Die logistiese koppelings in die suiwel- en varsprodukvoorraadketting is veral kwesbaar. Hoëwaarde uitvoerprodukte soos sitrus, sagtevrugte, appels en makadamia’s sal ook hierdeur geraak word.

Diefstal en vandalisme bedreig veiligheid

Transnet besit, bestuur en bedryf ’n ondergrondse netwerk van 3 800km hoëdrukpetroleum- en gaspyplyne. Sedert April vanjaar was daar reeds meer as 30 gevalle van diefstal uit die pyplyn, waartydens meer as twee miljoen liters brandstof gesteel is. Diewe beskadig die pyplyne en verbandhoudende infrastruktuur tot ’n toenemende mate vir dié doel.

Hierdie tipe diefstal is uiters gevaarlik aangesien die diewe nie net hulself in gevaar stel en groot skade aan die omgewing rig nie, maar ook die lewens van mense wat naby die pyplyne woon bedreig.

Spoedige optrede noodsaaklik

Agri SA en sy provinsiale affiliasies het gister in samewerking met Transnet ’n veldtog geloods ten einde produsente aan te moedig om enige kriminele optrede gemik op beskadiging van die pyplyn om diesel te steel aan te meld. Verdagte aktiwiteite kan by die volgende nommers aangemeld word: 0800 203 843 of 031 361 1500, of SAPS Crime Stop op 08600 10111.

Agri SA skakel ook voortdurend met Transnet oor die veiligheid van die boerderygemeenskap wat naby die pyplyn woon, asook oor die pyplyn as sulks. Namate die ekonomie heropen, is dit uiters noodsaaklik dat brandstofvoorrade beveilig word.

Agri SA doen ’n beroep op Transnet, nywerheidsbelanghebbendes en die regering om spoedig op te tree ten einde verdere skade aan ’n reeds brose Suid-Afrikaanse ekonomie te vermy. – Persverklaring, Agri SA