Die aankondiging Woensdagaand, 29 April, deur die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling dat die hele landbouwaardeketting vrygestel is van enige inperkings, met uitsondering van die verkope van alkohol en tabak, is inderdaad ’n pluimpie in die hoed van Agri SA en sy lede-organisasies. So sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur.

Read it in English

Die afgelope naweek is daar hard agter die skerms gewerk om hierdie deurbraak te bewerkstellig, met insette deur Agri SA-lede wat verwerk en voorgelê kon word.

Die betrokkenheid van Agri SA, tesame met ander instansies, in die ministeriële taakspan wat die Minister van Landbou die afgelope tyd geadviseer het, het vrugte vir die landbousektor afgewerp. Dit beklemtoon weer die belangrikheid vir boere, provinsiale- en bedryfsorganisasies en ander rolspelers in die landbouwaardeketting om aktief betrokke by ’n instelling soos Agri SA te wees en dit as ’n platform te gebruik om hul kwessies tot op die hoogste regeringsvlak te verteenwoordig.

Boere kan voortgaan met veilings

Boere kan nou voortgaan met veilings van lewendehawe en ander landbouprodukte soos wol en katoen. Dit bly egter onderworpe aan streng higiëniese voorsorgmaatreëls en ’n beperking van 50 mense per veiling.

Daarmee saam is kritiese landboudienste soos navorsing, inspeksies, sertifisering en gehaltebeheer ook van enige inperkings vrygestel.  Wyn kan nou weer uitgevoer word, so ook verskeie ander landbouprodukte.

Invoere en uitvoere

Agri SA se span het ook hul netwerke die afgelope tyd ingespan om invoere en uitvoere by die Suid-Afrikaanse hawens aan die gang te kry. In dié proses het Transnet uit hul pad gegaan om vragskepe toegang tot die hawens te verleen om swaar landboumasjinerie en ook chemikalieë noodsaaklik vir die voorbereiding van graanlanderye in die Wes-Kaap, af te laai. Boere in die Wes-Kaap en Graan SA se bekommernis dat die chemikalieë nie betyds sou arriveer nie, is deur hierdie aksie bygelê.

Maatskappye wat landboumasjinerie invoer se groter uitdaging was die onbekombaarheid van permitte om abnormale vragte te kon vervoer. Agri SA het die Direkteur-Generaal (DG) van Vervoer gekontak en die kantoor verantwoordelik vir die permitte was as ’n noodsaaklike diens verklaar. Dit het die maatskappye in staat gestel om ingevoerde landboumasjinerie betyds aan hul kliënte vir die stroopseisoen af te lewer.

Konstruksie van infrastruktuur op plase goedgekeur

Ander goeie nuus vir die sektor is dat die konstruksie van infrastruktuur op plase en deur agribesighede ook goedgekeur is. Die kommersiële landbousektor voorsien nie net kos aan Suid-Afrika, ons buurlande en aan die wêreld nie, dit skep ook werk aan nagenoeg 850 000 mense en verdien miljarde se buitelandse valuta vir Suid-Afrika.

“Agri SA bedank die Minister en DG van Landbou vir hul bereidwilligheid om na ons insette te luister en dit tot op die hoogste vlak namens die sektor in regulasies te verwoord wat die bedryf tot groot voordeel strek.

“Deur samewerking en wedersydse vertroue beskerm ons nie net ons burgers teen die vernietigende impak van die dodelike COVID-19-pandemie nie, maar ons stel ook planne in werking om die ekonomie te beskerm en voedselsekerheid vir almal te waarborg”, het Van Zyl afgesluit. – Persverklaring, Agri SA