Die COVID-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse ekonomie ernstig ontwrig. Werkloosheid en hongerte is ’n toenemende realiteit in talle gemeenskappe. Yara Africa Fertilizer het te midde van die COVID-19-pandemie ’n ruim skenking van R1 miljoen aan Agri SA se surplusvoedselhulpveldtog gemaak.

Met Wêreldhongersnooddag wat op 28 Mei herdenk word, is daar vandag ’n wêreldwye fokus op hongersnood. In die lig hiervan word die tydige skenking van Yara verwelkom.  

“Vanjaar val die klem van Wêreldhongersnooddag op ’n innoverende, holistiese benadering wat ten doel het om mense wat honger ly, te ondersteun om verantwoordelikheid te neem vir hul eie ontwikkeling en om hul eie gemeenskappe te bemagtig om armoede en hongersnood te oorkom.

“Agri SA en sy geaffilieerdes is daartoe verbind om hul humanitêre plig na te kom deur individue en gemeenskappe wat deur voedselnood geraak word, te help,” het Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.

Boere en plaaswerkers die fondasie van voedselsekerheid

Agri SA wil ook sy waardering uitspreek teenoor ons boere en plaaswerkers wat tydens die inperking deurlopend toesien dat Suid-Afrikaners toegang tot bekostigbare en gesonde voedsel het. Ons boere en plaaswerkers vorm die fondasie van voedselsekerheid.

Dit is met nederige dankbaarheid dat Yara Africa Fertilizer ’n bydrae kon lewer tot voedselinisiatiewe gedurende hierdie uitdagende tyd. Ons is verheug om deel te wees van Agri SA en sy affiliasies se inisiatiewe, wat ook regstreeks tot ons missie en visie spreek. Ons missie is om die wêreld op ’n verantwoordelike wyse te voed en die planeet te beskerm, wat ooreenstem met ons visie van ’n meewerkende gemeenskap, ’n wêreld sonder hongersnood en respek vir die planeet.

Yara ondersteun elkeen van ons produsente – van kleinboere tot grootskaalse kommersiële ondernemings – deur middel van kennis en hoë-gehalte produkte. Ons sien uit na voortgesette samewerking met Afrikagemeenskappe in die toekoms. – Persverklaring, Agri SA