Statistieke Suid-Afrika het vanoggend aangekondig dat verbruikersinflasie van 4,5% in April 2018 na 4,4% in Mei 2018 verlangsaam het. Maand-op-maand het die verbruikersprysindeks egter met 0,2% in Mei 2018 toegeneem.

Daar is ’n afname van 0,7% in April 2018 tot 0,6% in Mei 2018 vir voedsel en nie-alkoholiese drankies. Die indeks het op ’n jaarlikse grondslag met 3,4% gegroei. Suid-Afrikaanse boere hou aan om voedselsekerheid en lae voedselinflasie te verseker.

“Ten spyte van ’n swakker rand, hoër brandstofpryse en loonverhogings, is Agri SA verlig dat dit nie ’n wesenlike impak op inflasie gehad het nie,” sê dr Requier Wait van Agri SA.

Inflasie is steeds binne die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank (SARB) se teikenband van tussen 3 en 6%. In Mei het die monetêre beleidskomitee van die SARB die uitleenkoers per jaar op 6,5% gehou.

Elektrisiteitspryse kan egter steeds ’n risiko inhou, na die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) aangekondig het dat Eskom toegelaat sal word om R33,2 miljard van sy uitgawes van vorige jare terug te win, as deel van die regulatoriese verrekeningsrekening meganisme. Daar sal nog aangekondig word hoe hulle die verhogings sal infaseer. Die impak op inflasie sal eers bepaal kan word, wanneer dié moontlike verhogings geïmplementeer is. Hoër brandstofpryse kan ook ’n risiko vir inflasie inhou.

“Indien die swakker rand oor die medium termyn sal voortduur, kan dit wel ’n impak op inflasie en die uitleenkoers hê,” sê Hamlet Hlomendlini, hoofekonoom by Agri SA.

Agri SA bly optimisties oor die landbousektor en sy belang in Suid-Afrika se voedselsekerheid. – Persverklaring