Agri SA het op 16 April 2019 aangekondig dat hulle ’n hofgeding in die Pretoria hoërhof teen die toekenning van omgewingsmagtiging en eksplorasieregte vir skaliegas aan Rhino Oil & Gas geloods het. Dit volg nadat Agri SA bevestiging gekry het dat die hofstukke verlede week op al die respondente beteken is.

Read it in English.

In 2018 het Rhino Oil & Gas omgewingsmagtiging verkry om by wyse van lugvaart-tegnieke eksplorasie vir gas oor groot gedeeltes van Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap te doen. In Januarie vanjaar het die Petroleumagentskap van Suid-Afrika eksplorasieregte aan Rhino Oil & Gas vir sy Noordwes, Vrystaat en Oos-Kaap eksplorasiegebiede toegeken. Die aansoek om die KwaZulu-Natalse gebied word tans in die Appèlhof deur Agri SA se filiaalorganisasie in daardie provinsie, Kwanalu, betwis.

Hoewel Rhino Oil & Gas se gemagtigde eksplorasie-aktiwiteite nie daadwerklike boorwerk sal behels nie, hou die huidige regsbestel in Suid-Afrika met betrekking tot olie en gas in, dat houers van eksplorasieregte die eksklusiewe en outomatiese reg bekom om vir volskaalse produksieregte aansoek te doen en dit te verkry, sou die eksplorasie-aktiwiteite die aanwesigheid van lewensvatbare olie- of gasbronne aandui.

Dit beteken dat belange-organisasies soos Agri SA, van die begin af hulself moet wend tot die howe ten einde te verseker dat hidrouliese breking (fracking) vir skaliegas nie in Suid-Afrika uitgerol word nie.

Water is ‘n skaars kommoditeit

“Sonder die nodige bevredigende inligting omtrent die beskikbaarheid en behandeling van water om ’n hidrouliese breking en skaliegasbedryf in Suid-Afrika te onderhou, kan Agri SA nie die regering se oënskynlike aptyt vir ’n gasindustrie in hierdie land ondersteun nie,” sê Janse Rabie, Agri SA se beleidshoof vir natuurlike hulpbronne.

“Suid-Afrika is alreeds ’n land waar water ’n baie skaars hulpbron is. Agri SA is van mening dat die regering nie naastenby versigtig genoeg is wanneer dit kom by die moontlike effek van skaliegasontginning nie.”

Lugvaart- en seismiese opnametegnieke kan boonop teen privaatheidsregte indruis. Kwessies oor privaatheid en veral die aanwending van lugvaartopnames in gebiede wat vir tradisionele geloofs- en kulturele praktyke gebruik word, kan wesenlik beïnvloed word en is skynbaar nie in ag geneem in die toestaan van die omgewingsmagtigings in hierdie geval nie. – Persverklaring, Agri SA