Agri SA verwelkom graag vir Deidré Carter wat pas as die nuwe uitvoerende hoof van Agri Limpopo aangestel is. Die uitvoerende hoof is verantwoordelik om onder meer met boere-lede, regeringsamptenare en ander besluitnemers binne die landbou-waardeketting op ’n strategiese vlak te skakel. Carter het ’n loopbaan binne die politiek en bestuurswese gesmee en in die Suid-Afrikaanse parlement in verskeie komitees wat met landbou te make het, gedien.

Deidre Carter, nuwe uitvoerende hoof van Agri Limpopo.

“Ons vertrou Deidre sal goed inskakel by Agri Limpopo en die verhoudings wat reeds gebou is verder verstewig,” sê Piet Engelbrecht, Agri Limpopo waarnemende president. “Agri Limpopo is ’n belangrike verteenwoordiger van sy boere-lede by die onderskeie plaaslike, provinsiale en nasionale fora en daarom is ons opgewonde oor die kundigheid en gesag wat Deidré bring.”

Carter was ’n stigterslid van die Congress of the People (COPE) en het as die adjunk-sekretaris-generaal gedien. Sy is in 2009 as ‘n COPE-parlementslid verkies. Buiten haar politieke verpligtinge het Carter ook in die daaglikse bestuur van die party ‘n leidende rol gespeel. 

Reg vir nuwe mylpale

“Ek is opgewonde en dankbaar vir die geleentheid en is reg om aan die werk te spring,” sê Carter. “Ek is bekend met die uitdagings binne landbou, spesifiek vir landbouers in Limpopo, en ek sien uit om nouer met vriende en bestaande vennote saam te werk.”

Agri Limpopo is ’n provinsiale lid van Agri SA.

“Suid-Afrikaanse landbou verdien die beste talent om die saak van boere so goed moontlik te behartig, en ons sien uit om saam met Deidré te werk,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. – Persverklaring, Agri SA