Agri Wes-Kaap betwyfel of die regering besef watter enorme skade die besluit van Sondagaand, 12 Julie, om alkoholverkope met onmiddellike effek op te hef, op die totale wynwaardeketting gaan hê.

Read it in English

“Vlakke vyf en vier van die nasionale inperking het reeds ’n groot, nadelige uitwerking op die wynbedryf gehad toe die verbod op binnelandse verkope ’n inkomste-verlies van meer as R3 miljard tot gevolg gehad het,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Hy sê Agri Wes-Kaap is uiters bekommerd oor werksverliese wat reeds as gevolg van COVID-19-regulasies in die waardeketting voorgekom het. Na raming kan nog 18 000 werkers geraak word.

Die besluit om drankverkope wéér te verbied, gaan ook verdere druk op talle produsente en wynkelders plaas, wat reeds enorme skade weens die inperkingsregulasies gely het en wat ’n groot behoefte aan oorbruggingsfinansiering het.

“Die landboubedryf is nie in die besluit geken of gekonsulteer nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie. Daar is ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020-oes nog in die kelders staan. Die totale spiritualieëbedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word nadelig deur die opheffing van drankverkope beïnvloed,” sê Strydom. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap