Dit is met trots dat Agri’s Got Talent (AGT) kan aankondig dat die Sitrusprodusentevereniging (CGA) as ’n borg by dié kompetisie aangesluit het. Dit beteken dat AGT in 2019 groter en beter is. Hierdie opwindende sangkompetisie, wat deur die sitrus-, sagtevrugte-, wyndruif- en tafeldruifbedryf aangebied word, is nou oop vir inskrywings.

Read it in English.

Agri’s Got Talent is ’n sosiale opheffingsprojek vir landbouwerkers en word deur Hortgro, die Sitrusprodusentevereniging, VinPro Stigting, Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf en die Wes-Kaapse Departement van Landbou geborg. Dit is vanjaar die vyfde keer dat hierdie gewilde kompetisie die plaaswerf laat dreun. Sangitems kan in enige genre gelewer word – of jy nou hou van pop, country, rock of klassieke musiek, Agri’s Got Talent wil van jou hoor.

Hierdie is ’n fantastiese geleentheid om jou talent ten toon te stel, groot pryse te wen en jou merk te maak vir jou gemeenskap. Finaliste ontvang ’n week van intensiewe sang- en verhoogopleiding, asook lewensvaardigheidsontwikkeling.

Die gala-aand sal op 2 Augustus by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes plaasvind.

Skryf so in

WhatsApp ’n klankgreep van ongeveer drie minute na 082 372 1557 of epos: agrisgottalent@gmail.com.

Voeg die volgende inligting by:

  • Naam en van.
  • Geboortedatum
  • Selfoonnommer
  • Naam van plaas, pakhuis of kelder.
  • Posbeskrywing
  • Hoe lank jy al op die plaas, in die pakhuis of kelder werk.
  • Naaste dorp.

Sluit aan by die AGT-gemeenskap en kry meer inligting op hul Facebook-blad of besoek die webtuiste www.agrisgottalent.com.

Vir meer inligting kontak Carme Naude by carme@hortgro.co.za of 021 870 2900. – Persverklaring