Izak Hofmeyr het pas die jaarlikse RuVASA-kongres in Umhlanga Rocks bygewoon, waar hy die geleentheid aangegryp het om agter die skerms met belangrike rolspelers te gesels. Kyk gerus na die videos hieronder.

‘One Health’ hou die sleutel

‘n Tema wat op die tweede dag van die RuVASA-kongres in Umhlanga sterk onder die loep gekom het, is die sogenaamde ‘One Health’-konsep. Dit gaan oor die besef dat gesondheid nie gefragmenteer behoort te word nie. Dieregesondheid en menslike gesondheid, asook die gesondheid van die omgewing, behoort as ‘n geheel gesien te word, omdat mens en dier eintlik baie nou in dieselfde ekosisteem saamleef. As iets byvoorbeeld in die ekosisteem verkeerd gaan, is daar siektes wat baie maklik van dier na mens kan oorspoel.

Kyk hier wat dr Riaan du Preez van Afrivet oor die One Health-konsep te sê het.

Herding for Health

Die Herding for Health-program is ontwikkel met die doel om veeboere, bewaringsinstansies en beleidmakers te motiveer om saam te werk aan ‘n model waarbinne wild en vee saam kan bestaan. Dit terwyl die grootste risiko’s aan so ‘n saam-bestaan verklein kan word. Die behoefte aan so ‘n model word veral gevoel in kommunale gebiede wat grens aan groot bewaringsgebiede soos die Kruger Nasionale Park. Een van die pilare waarop die program staan, is die opleiding van veewagters in veldbestuur, dieregesondheid en roofdierbeheer.

Izak Hofmeyr het die dryfveer agter die program, dr Jacques van Rooyen, uitgevra oor dié konsep. Kyk hier na dié gesprek.

Die vierde Industriële Revolusie en die landbou

Die vierde industriële revolusie word beskryf as die nuwe era van tegnologiese ontwikkeling waar die grense tussen die fisiese, digitale en biologiese sfere toenemend vervaag. Een van die kenmerke van hierdie revolusie is die verbysterende spoed waarteen tegnologiese ontwikkeling plaasvind. En dit hou onomkeerbare implikasies vir die mens in. Dr Riaan du Preez van Afrivet vertel in die video hieronder meer oor dié revolusie.

Om meer te lees oor 2019 se RuVASA-kongres klik hier.