Al Mawashi Suid-Afrika (AMSA) het vandag aangekondig dat die maatskappy van voorneme is om lewende hawe direk vanaf Suid-Afrikaanse rooivleisprodusente en boere aan te koop. AMSA het reeds afgeskop met die sluit van afsetooreenkomste met kommersiële boere.

Read it in English

JP Roodt, Al Mawashi SA se woordvoerder, het gesê dat die afsetooreenkomste baie gunstig deur hierdie boere verwelkom is. Derhalwe sal dit op ‘n groter en nasionale skaal uitgebrei word.

Markverwante pryse en aansporings

“Al Mawashi SA betaal markverwante pryse, bied finansiële aansporings en bemagtig boere om derde-party onkoste te sny.

“Ons het ‘n maand gelede ‘n loodsooreenkoms van stapel gestuur en baie positiewe terugvoer vanaf rooivleisprodusente en boere ontvang. Ons rig ‘n ope uitnodiging aan skaapboere in al nege provinsies van Suid-Afrika, om met Al Mawashi SA in verbinding te tree vir ‘n moontlike afsetooreenkoms.

‘n Nuwe aankoopstrategie

Volgens Roodt het AMSA nou ‘n nuwe aankoopstrategie wat die monopolie in die mark uitskakel. Hierdie monopolie was tot nadeel van boere en het ook verhoudings met die Midde-Ooste versuur.

Die maatskappy sê die strategie vir die 2022 finansiële jaar, is om aankope te diversifiseer deur middel van verhoudings met gekose veilingshuise sowel as agente. Sterk klem word egter nou geplaas op direkte aankope vanaf boere met die oog op vier besendings van Suid-Afrikaanse lewende hawe na die Midde-Ooste.

Mnr Ilyaas Ally, besturende direkteur van AMSA, sê daar was die afgelope tyd ook verskeie positiewe verwikkelinge. “Die eerste was die konsepriglyne vir die see-vervoer van diere, wat deur die Suid-Afrikaanse regering gepubliseer is. Dit is ‘n definitiewe bewys van die regering se steun. Die belangrike uitspraak deur die Konstitusionele Hof bied verdere sekerheid in hierdie verband.”

Groter vertroue en vooruitgang

“Daarby het verhoudinge tussen Al Mawashi Suid-Afrika en plaaslike rooivleisprodusente versterk, en ons het nader aan mekaar beweeg. Ons besigheid moet dus nou sy aankoopbeleid diversifiseer ten einde kritiese getalle en gehalte te verseker. Hierdie strategie sal boere ook help met beter kuddebeplanning.”

Ally het voorts gesê dat die diversifisering van aankope deur die senior leierskap en bestuur van AMSA se moedermaatskappy, die Koeweit-gebaseerde en gelyste voedselsekerheidsmaatskappy, KLTT, ondersteun word. Dit sal veeboere en AMSA nader aan mekaar bring, groter vertroue kweek en vooruitgang verseker.

Meer beheer vir boere

“Die voorgestelde afsetooreenkomste sal boere volle beheer gee oor die indiening van hul fakture aan AMSA se hoofkantoor. Hulle sal ook voordeel trek uit die gewaarborgde 7- tot 14-dae betaalterme. Hulle sal boonop spaar op derdeparty onkostes.

“Die uitvoer van lewende hawe na die Midde-Ooste bly ‘n florerende bedryf. Die toekoms van hierdie bedryf lê egter in die hande van rooivleisprodusente en boere wat hul aandeel in hierdie mark moet vergroot.

“Topgehalte lewende hawe sal boere die geleentheid bied om ‘n alternatiewe mark in die Midde-Ooste te skep. Daar is ‘n toenemende verbruikersaanvraag na skaap- en lamsvleis in hierdie mark, gegewe die bevolkingstoename in die Midde-Ooste.”

“Dit is dus van kardinale belang dat Suid-Afrika ‘n strategiese vennootskap met Midde-Oosterse lande kweek.”

Boere wat belangstel in ‘n vennootskap met Al Mawashi SA en in aanmerking wil kom vir ‘n afsetooreenkoms, kan die maatskappy kontak by 043 748 3767 of epos supportsa@kltt.com.kw.