Die 2019 ALFA-ekspo is om die draai en dinge is aan die gebeur! ALFA, oftewel die African Livestock Trade Fair, vier vanjaar sy vierde bestaansjaar en sal van 17-19 September by die Afridome in Parys gehou word.

‘n Terugblik

Meer as 8 000 besoeker het ALFA oor drie dae in 2018 bygewoon, met internasionale bywoning vanuit Nigerië, Namibië, Zimbabwe, Argentinië en Australië. Altesaam 46 verskillende rassegenootskappe wat verteenwoordigend was van vleisbeeste, melkbeeste, perde, honde en kleinvee, was betrokke by die ekspo. Twaalf landbouskole en vier universiteite was ook deel van die jeugprogram.

ALFA 2019 fokuspunte

ALFA fokus op lewendehawe en staan op vier pilare wat letterlik die hartklop van die ekspo is en hierdie fokus defineer. Alle aktiwiteite en projekte wat aangebied word by ALFA, is op een van hierdie pilare gebasseer.

PILAAR 1: Doeltreffende veeproduksie

ALFA het ’n wetenskaplike ingesteldheid tot veeproduksie en poog om veeboere bloot te stel aan nuwe tegnologie, beste praktyke, ’n ingesteldheid op syfers en presisieboerdery. Dit sluit al die spesies in wat deur die Diereverbeteringswet, 1998 (Wet 62 van 1998) gedek word: Vleis- en melkbeeste, vleis- en wolskape, melk- en vleisbokke, varke, werksperde en -honde, wild, konyne, braaikuikens en lêhenne.

2019 projekte wat op hierdie pilaar staan, sluit in:
  • Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap.
  • GWK interras suiwelkampioenskappe.
  • Nutri Feeds Nasionale Versprestasiekampioenskap.
  • Nutri Feeds Nasionale Moneymaker-uitstalling vir koeie en ooie.
  • Cape Gate Mega-os Kampioenskap.
  • Barnlab-pawiljoen van Kleinveekampioene.
  • Total Agri “face of the breed” buluitstalling.
  • Supreme Werkshond-ekspo.
  • PIC Vark-ekspo.
  • BKB Ramprestasiekampioenskap.
  • RPO interras slaglam- en slagoskompetisie.
  • Nutri Feeds-konynekspo.
  • Die Kroon Stud-wildekspo.

PILAAR 2: Landboujeug

ALFA poog om met verskillende projekte die landboujeug van Suid-Afrika bloot te stel aan die hoofstroom-landbou en internasionale beste praktyke. Dit sluit skole, universiteite en ander skoolverlaters in.

2019 projekte wat op hierdie pilaar staan, sluit in:
  • Old Mutual landboustudent van die jaar.
  • Promark ALFA-studenteprogram.
  • FNB landbouskool van die jaar.
  • Voermol ALFA-jeugskou.
  • Veeplaas-skolevasvra.
  • Sernick Junior Slagoskompetisie.
  • Zoetis Junior Interraskampioenskap.
  • Die Toyota SA Jong en Junior Afslaerskompetisie.
  • Die Santam Landbou Junior Kuilvoerkompetisie.

PILAAR 3: Handel

ALFA 2019 bied ’n verskeidenheid van veilings aan en uitstallers kry die geleentheid om produkte direk aan produsente by ALFA te verkoop. Uitstallers bied ook spesiale aanbiedinge en winskopies.

2019 projekte wat op hierdie pilaar staan, sluit in:
  • PIC-varkveiling.
  • SAVM-jongramveiling aangebied deur BKB Louwid.
  • ALFA-interrasramveiling aangebied deur BKB Louwid.
  • ALFA-interrasbulveiling aangebied deur OVK.
  • ALFA-konynveiling.
  • Wildswinkel Aanlyn-aanteelveiling.

PILAAR 4: Sosiale interaksie.

ALFA skep die geleentheid tot interaksie tussen produsente, asook ’n geleentheid waar almal in die veebedryf mekaar kan ontmoet en leer ken. Landbouers hou van samekoms en ALFA bied die ideale geleentheid om ou vriende te groet, medeprodusente te ontmoet en met diensverskaffers te kuier.

2019 projekte wat op hierdie pilaar staan, sluit in:
  • ALFA-dinee en prysoorhandiging.
  • SAFA People’s Choice Bief-uitdaging.
  • People’s Choice Kaas-uitdaging.
  • Wildsbiltong People’s Choice-uitdaging.

ALFA 2019 gaan nóg groter en beter wees as in 2018. Volgens Albert Loubser, mede-organiseerder van die ekspo, gaan 2019 iets besonders wees. Meer as 20 vleisbeesgenootskappe, drie melkbeesgenootskappe, meer as 25 kleinveegenootskappe, vier perdegenootskappe en vier hondegenootskappe het reeds hul deelname bevestig. Dit maak dit die grootste versameling van veerasse ooit op een perseel in Suid-Afrika.

“Met ALFA in sy vierde jaar, kan ons met reg sê dat ons baie geleer het en ‘n baie beter idee het van dit wat werk en dit wat nie werk nie. Ek glo 2019 sal die eerste jaar wees waarin ons werklik kan implementeer wat ons oor die afgelope drie jaar geleer het. Wees gereed vir groot dinge!” – Michelle Verster, AgriOrbit

Vir meer inligting oor ALFA, kontak Albert Loubser by 082 562 2188 of stuur ‘n epos na albert@plaasmedia.co.za. Om ‘n stalletjie te bespreek, kontak gerus jou Plaas Media-verkoopskonsultant of stuur ‘n epos na marne@plaasmedia.co.za. Daar is nog net ‘n beperkte aantal stalletjies beskikbaar.