ALFA 2019 was voorwaar ’n skouspel soos min. Die Afridome in Parys was van 17 tot 19 September vanjaar ‘n byenes van veegeleenthede waar liefhebbers en produsente van groot- en kleinvee hulle kon verlustig in die talle rasse wat daar uitgestal is. ’n Totaal van 5 813 besoekers het stalletjies besoek, diere besigtig en toegekyk hoe die room van die land se vee beoordeel is.

’n Totaal van 134 telers het hul diere na ALFA gebring en dit het gesorg vir die teenwoordigheid van 311 vleisbeeste wat 30 rasse verteenwoordig het, 29 melkbeeste van drie rasse, en 221 kleinvee van 26 verskillende rasse. Daarbenewens kon belangstellendes hulle ook verkyk aan varke, honde, perde, konyne, hoenders en selfs sierduiwe.

ALFA se program bestaan egter nie net uit uitstallings nie en ’n volgepakte program van demonstrasies, werkswinkels, konferensies en kompetisies het vir heelwat opwinding gesorg.

Net die beste

Van die prominente borge by ALFA 2019 was Nutri Feeds, BKB en Barnlab. Nutri Feeds was die naamborg van twee projekte – die Nasionale Versprestasiekampioenskap asook die Moneymaker koei- en ooi-uitstallings. In beide gevalle, asook by die Total Agri “Face of the Breed”-uitstalling, het SA Stamboek, Breedplan en die LNR die top 10% van diere binne die verskillende rasse geïdentifiseer op grond van prestasiedata. Hierdie telers is genooi om hul diere by ALFA te vertoon. Al die syfers wat gebruik is, is gegenereer deur SA Stamboek se Logix-stelsel en is by elke dier se uitstalling vertoon.

Dertien grootkampioenramme wat gedurende 2019 by skoue as kampioene gekroon is of as rasverteenwoordigers aangewys is, was deel van Barnlab se Best of the Best-uitstalling, terwyl BKB se ramprestasiekampioenskap op dieselfde beginsels as die bogenoemde versprestasiekampioenskap aangebied is.

Daarby het SA Stamboek, as een van die sentrale rolspelers by ALFA 2019, ook vanjaar sy telingsimposium by ALFA aangebied en sy SA Stamboek Elite-streekstoekenningsfunksies vir vleis- en melkbeeste, asook sy nasionale toekenningsgeleentheid vir kleinvee, by ALFA gehou. Finaliste is aangewys en die wenners sal aanstaande jaar in Bloemfontein aangekondig word.

Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap

Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap is ’n absolute hoogtepunt op die ALFA-program en het vanjaar op 19 September plaasgevind. Hier is die wenners van die land se top interraskampioenskappe beoordeel en tydens ’n spogparade by die ALFA-dinee aan teenwoordiges vertoon.

Die waardige wenner in vanjaar se bulkampioenskap is die Santa Gertrudis-bul, Kanonkop, van Riaan Lubbe se Red Barrel-stoet. Die vroulike wenner is die koei, Hide-A-Ways Serenade; sy is ‘n rooi Angus-koei wat aan Hendrik Delport van Migdol behoort. Kyk eersdaags na Grootplaas op kykNET kanaal 144, wanneer beide wenners oor hulle spogdiere gesels.

Hinterland se betrokkenheid was groter as vantevore en dié maatskappy het vanjaar ook ‘n plaasbestuurderskonferensie by ALFA aangebied. Die doel van dié konferensie was om aandag te vestig op die gespesialiseerde aard van die plaasbestuurdersberoep. Die bekende besigheidsman en spreker, Brand Pretorius, het teenwoordiges by dié suksesvolle geleentheid toegespreek. Pretorius het gefokus op persoonlike, volhoubare suksesriglyne in ’n konstant veranderende wêreld.

Zoetis Junior Interraskampioenskap

Die Zoetis Junior Interraskampioenskap is ’n gewilde kompetisie onder landbouskole wat jaarliks by ALFA meeding. Die diere wat gebruik word moet aan die skool self behoort en mag nie by telers geleen word nie. Die wenners in die onderskeie afdelings was:

  • Verse: Santa Gertrudis, Blouskool (Kroonstad).
  • Junior bulle: Afrikaner-bul, Hoërskool Bekker.
  • Senior koeie: Santa Gertrudis-koei, Blouskool (Kroonstad).
  • Bulle: PinZyl-bul, Hoërskool Merensky.

Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie

Westend Landgoed is vir die derde jaar in ’n ry as Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkoning gekroon. Hulle was die algehele wenner en ook die wenner in die mieliekategorie, en is deur Kemin Industries ingeskryf. Hurwitz Farming was ’n ander kategoriewenner wat die sorghumkategorie met ’n silosak gewen het. Hulle is deur Budissa Agroserve ingeskryf. In die hawerkategorie het De Draay koning gekraai met ’n bunker wat deur Meadow Feeds Paarl ingeskryf is.

Die kategoriewenners is aangekondig tydens ’n mini-konferensie wat by ALFA plaasgevind het en die algehele wenner is tydens die ALFA-dinee aangekondig. Hou die pers dop vir verdere inligting rondom die wenners en uitslae.

Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie

Die finale rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie wat deur Plaas Media aangebied word, het by ALFA plaasgevind. In die junior-afdeling vir skoliere het Albertus Gouws van Hoër Landbouskool Marlow met die louere weggestap en in die gesogte jong-afdeling is JP Marais van OVK as vanjaar se Toyota SA Nasionale Jong Afslaer gekroon.

Marais het meegeding teen Henri Beyleveldt van André Kock & Seun asook Shaun Kruger van Manaka Boerdery & Voerkraal. As deel van sy prys sal Marais Suid-Afrika in Julie 2020 by die Calgary Stampede in Kanada verteenwoordig in ’n internasionale afslaerskompetisie wat jaarliks daar gehou word.

SAFA Beef Brands-uitdaging

Die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAFA) het vanjaar ’n heerlike Beef Brands-uitdaging aangebied waartydens die vleis van verskillende veld- en voerkraaldiere op grond van Meat Standards Australia (MSA) se protokol geëvalueer is. In die afdeling vir graangevoerde diere het Sparta Angus koning gekraai, met Woodview Wagyu en eBuhlanti Wagyu Breeders kort op hul hakke. In die veldvleis (grasgevoerde) afdeling het Langside Meats Veld Reared Beef met die louere weggestap, gevolg deur Afri Beef. Die uiteindelike algehele wenner in die uitdaging was Sparta Angus.

SAFA People’s Choice Beef-uitdaging

SAFA was ook vanjaar die amptelike borg van ALFA se jaarlikse vleisproekompetisie vir die publiek. Hier word verskillende vleisbeesrasse se vleis blind geproe en daar word dan gestem vir die smaaklikste stukkie vleis. Vanjaar het ’n heerlike stukkie Afrikanerbeesvleis geseëvier toe dit die meeste stemme ontvang het. Die ander rasse wat deelgeneem het was Angus, Brahman, Simmentaler en Bonsmara.

Slagveekompetisies

Vanjaar is die eerste keer dat so ’n verskeidenheid karkaskompetisies vir verskillende spesies tydens ALFA aangebied is. Hier is die wenners van die onderskeie kompetisies:

  • RPO Interras Slagoskompetisie: Op die hoef – Theo Coetzee, Beefmaster.
  • RPO Interras Karkaskompetisie: Enkelkarkas – Sernick Bonsmara, Bonsmara.
  • RPO Interras Karkaskompetisie: Groep van vier – TJ de Jager, Braford.
  • Sernick Junior Slagoskompetisie: Op die hoef – Morgenzon Landbou-akademie, Braford.
  • Sernick Junior Karkaskompetisie: Enkelkarkas en groep van vier – Morgenzon Landbou-akademie, Braford.
  • Sernick Ontwikkelende Boer Karkaskompetisie: Enkelkarkas – Bodulo Mabote.
  • TAU Voere Slaglam-karkaskompetisie: Enkelkarkas – Regina Harmse, Ile de France.
  • TAU Voere Slaglam-karkaskompetisie: Groep van vier – Mark de Bruin (Hageland), Ile de France.
  • ALFA-varkkarkaskompetisie: Enkelkarkas – Michael Ras, PIC Springtop Farms.
  • ALFA-varkkarkaskompetisie: Groepwenner: Petrus Steynberg, Tonbridge-stoet.

Ander hoogtepunte

  • ’n Rekordprys is behaal toe Michael Ras van PIC Springtop Farms se wenkarkas in die ALFA-varkkarkaskompetisie, vir ’n reuse bedrag van R110/kg aan Jan van Rensburg van Van Rensburg Vleis in George verkoop is. Die kompetisie is ondersteun deur SAMIC en Lynca Meats.
  • In die Cape Gate Mega-oskompetisie het die Chianina-os, Romeo, van Christian de Jager op ’n yslike 1,33 ton ingeweeg en die Cape Gate Mega-ostitel opgeraap.
  • In die GWK Hoëveld Suiwelprestasie-uitdaging was die prinses van die ekspo EDE Farming se EDE Dreamweaver 18053, terwyl Lowerland Mookie 16052 van Janvos Landgoed as die koningin van die ekspo aangewys is. Beide diere is Holsteins.
  • Die FNB Landbouskool van die Jaar-trofee het vanjaar aan die Hoërskool Merensky gegaan. Dié skool het die beste gemiddeld van al die aktiwiteite in vanjaar se ALFA-skoleprogram behaal.
  • Morgenzon Landbou-akademie het die Veeplaas Skolevasvrakompetisie (een van die bene van die FNB Landbouskool van die Jaar-kompetisie) gewen.
  • Die landboujeug kon tydens vanjaar se PLAAS Landboujeugstigtingskonferensie onder andere geïnspireer raak deur Anita Browne, vanjaar se Agri Gauteng Jongboer van die Jaar en Rikalize Reyneke, ’n graad 11-leerder van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en eienaar van La Pieus Aqua.

’n Nuwe tuiste vir ALFA 2020

ALFA is vanjaar afgesluit met ’n baie belangrike aankondiging rondom die toekoms van die ekspo. Graan SA en ALFA het besluit om hande te vat en sal in September 2020 die heel eerste NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag en Buitelewe-ekspo aanbied op NAMPO-park net buite Bothaville.

Hierdie is ’n belangrike stap in die groei van ALFA en sal aan die ekspo ruimte bied om sy vlerke te sprei. Daarmee saam bestaan daar tans ’n groot behoefte onder produsente vir ’n jag- en buitelewe-ekspo wat sentraal geleë is. Die nuwe ekspo bied geleentheid vir hierdie uitbreiding en soveel meer. Meer inligting sal mettertyd in die pers bekendgemaak word. – persverklaring, Plaas Media

Vir meer navrae kontak Albert Loubser 082 562 2188 of Lynette Louw 084 580 5120.