Van links is Michelle Verster van die ALFA-reëlingskomitee, Mike Cornish van die Parys Dierebeskermingsvereniging (DBV), Dries Reynecke van Barnlab en Albert Loubser van Plaas Media. 

Een van die hoogtepunte van vanjaar se ALFA vee-ekspo wat van 18 tot 20 September in Parys gehou is, was die opveil van die velle van twee Chianina-osse wat as die Cape Gate ALFA Mega-oskompetisie-wenners gekroon was. Die velle van die diere is tydens die ALFA-galadinee opgeveil en is uiteindelik vir R6 500 van die hand gesit. Die betrokke Chianina-kruisdiere is deur Hansie Muller van Viljoenskroon geteel en deur Christiaan de Jager van Oh-la-la Chianina ingeskryf vir die Cape Gate Mega-oskompetisie.

Tydens die dinee is daar ook ‘n advertensie deur Plaas Media opgeveil vir plasing in sy vlagskiptydskrif, Veeplaas. Die advertensie is deur die voermaatskappy, Barnlab, gekoop vir R28 500. Die geld van beide die veilings is aan die plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Parys geskenk.

Mike Cornish van die DBV in Parys het op 8 November die skenking ter waarde van R35 000 in ontvangs geneem. Die tjek is deur Dries Reynecke van Barnlab en Albert Loubser van Plaas Media aan hom oorhandig. Reynecke het tydens die oorhandiging sy lof uitgespreek vir die belangrike werk wat deur die DBV verrig word. Cornish het op sy beurt die ALFA-span gelukgewens met ‘n uiters suksesvolle 2018-skou en gesê die ekspo stel hoë standaarde vir die hantering van vee tydens sulke geleenthede. -Ursula Human, Veeplaas

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here