Die wynbedryf kan nie die verlenging van die verbod op alkoholverkope bekostig wat president Cyril Ramaphosa Maandag 11 Januarie aangekondig het nie.

Agri Wes-Kaap is teleurgesteld dat die regering ʼn algehele alkoholverbod in plaas van ’n alternatiewe benadering ten opsigte van alkoholverkope gevolg het. Voorstelle wat die wynbedryfsliggaam VinPro aan die einde van Desember verlede jaar aan die regering gemaak het, is klaarblyklik ook nie deur die regering oorweeg nie.

Read this article in English.

Die wynbedryf, ʼn vooraanstaande rolspeler in die Wes-Kaap sowel as die land se ekonomie, het tydens die eerste en tweede verbod op alkoholverkope in 2020 reeds aansienlike finansiële en werksverliese gely.

Nóg werksgeleenthede wat aan die wynwaardeketting gekoppel is, word geraak. Die verlenging van die alkoholverbod plaas verdere spanning op verskeie wynprodusente se finansiële vermoë om te oorleef.

Hoewel Agri Wes-Kaap die druk waaronder die gesondheidsorgstelsel verkeer verstaan, trek die landbousektor aan die kortste ent weens die publiek se gedrag.

Ons hoop dat president Ramaphosa by sy woord gaan hou om met rolspelers te konsulteer. Sedert die aankondiging van die nasionale inperking in Maart 2020, het die regering genoeg tyd gehad om op ’n moontlike tweede golf van infeksies voor te berei.

Dit is onredelik dat ʼn bedryf wat ʼn belangrike werkskepper en verdiener van buitelandse valuta is, nou die spit moet afbyt. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap