Die familieboer-organisasie, Saai, het op 20 Januarie 2021 in ’n skrywe aan die minister van polisie versoek dat die sperdatum vir amnestie-aansoeke met ’n verdere drie maande uitgestel word. Die versoek is op grond van die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie en die ontwrigtende impak daarvan op die SAPD se verrigtinge gerig.

Read this article in English.

Die Covid-19-regulasies, vrese dat die virus versprei en polisiebeamptes wat weens Covid-19-voorvalle afwesig is, is tans besig om die amnestietydperk vir vuurwapenlisensies in die wiele te ry. Polisiekantore op die platteland het dikwels ’n tekort aan die verskillende voorgeskrewe vorms wat benodig word om vir amnestie aansoek te doen.

Beurtkrag en deurlopende instandhouding van stelsels bring ook mee dat rekenaarstelsels gereeld van lyn af is, terwyl die afwesigheid van die nodige beamptes die amnestieproses verder ontwrig. Saai is bekommerd oor die SAPD se vermoë om die amnestie-aansoeke binne ’n billike tydperk te verwerk en die korrekte vuurwapens ongeskonde aan die regte eienaars terug te besorg.

Covid-19 glo die oorsaak van oponthoud

Sommige Saai-lede moes te vergeefs tot sewe keer na polisiekantore terugkeer en etlike ure wag dat hul aansoeke verwerk kan word. Die Covid-19-pandemie word oor die algemeen as verskoning gebruik en dis juis waarom die tydperk vir aansoeke verleng moet word.

Een van die grootste struikelblokke is die vereiste dat vuurwapens vir die duur van die amnestieproses by die SAPD ingehandig moet word. Met die hoë landelike misdaadsyfer en toename in plaasaanvalle, veediefstal en stroping van oeste en wild, maak dit egter nie sin om boere ongewapend op hul plase vir lisensiëring te laat wag nie.

Saai se voorstel dat boere hul wapens moet hou en slegs laat inneem wanneer die SAPD vir ballistiese toetsing gereed is, het tot dusver op dowe ore geval. Vanweë die waarde van vuurwapens en veral duur jaggewere beveel Saai aan dat foto’s van vuurwapens geneem word as bewys van die toestand waarin hulle tydens inhandiging was.

As die grootste netwerk eksklusief vir familieboere, hou Saai die amnestieproses nougeset dop en staan gereed om die SAPD vir administratiewe geregtigheid en vir die terugbesorging van wapens verantwoordelik en aanspreeklik te hou. Vuurwapeneienaars wat bekommerd is dat hulle in die amnestieproses te nagekom word, kan Saai by 066 071 6094 skakel. – Persverklaring, Saai