André van Wyk is op 1 Januarie 2020 as hoof uitvoerende beampte by Vititec aangestel, die toonaangewende verskaffer van hoë gehalte wingerd- en tafeldruifplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Moeilike tye ‘n geleentheid vir vernuwing

André was vir die afgelope vier jaar produksiebestuurder van die vrugteverpakkingsafdeling by Dutoit Vrugte. Hy was ook voorheen aan die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie (SATI) verbonde as bestuurder van marktoegang en tegniese ondersteuning, en diensbestuurder vir die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB).

André neem op 1 Maart 2020 amptelik die leisels by Nico Spreeth oor, wat einde Februarie as Vititec se hoof uitvoerende beampte uittree.

“Ek sien uit daarna om met Vititec se span saam te werk om selfs nog meer waarde tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf toe te voeg deur die maatskappy se hoogstaande plantmateriaal en dienslewering,” sê André. “Moeilike tye, soos wat die wyn- en breër landboubedryf die afgelope paar jaar beleef het, is ʼn katalisator vir innovasie en nuwe, gefokusde denke, wat ek glo die bedryf selfs stérker sal maak.”

‘n Verskaffer van hoë gehalte wingerdplantmateriaal

Vititec, ʼn filiaal van die wynbedryfliggaam, Vinpro, is in die Paarl gebaseer, met persele in Vredendal en Grondves buite Stellenbosch en ses kwekerypersele in die Clanwilliam- en Piketberggebiede. Die maatskappy fokus op virusreiniging van wingerdplantmateriaal, asook die ontwikkeling, uitbreiding en voorsiening van wingerd- en wynkundiggeselekteerde plantmateriaal aan die bedryf in die vorm van geënte wingerdstokke en wingerdplantmateriaal geskik vir enting.

Die maatskappy voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf. – Persverklaring, Vinpro