Die Angus Beef-maatskappy se langverwagte belofte van die beskikbaarheid van Angus-vleis in die Suid-Afrikaanse mark het uiteindelik ’n werklikheid geword, met Woolworths se bekendstelling van Angus-beesvleis wat groot opwinding by plaaslike verbruikers veroorsaak het. Dié vleis, wat bekend is vir die uitskende smaak daarvan, is oplaas by uitgesoekte Woolworths-handelstakke beskikbaar.

Woolworths word reeds landswyd geken vir hul ononderhandelbare standaarde in produkgehalte, en omdat Angus-beesvleis ’n produk is wat topgehalte nastreef en aan die uitsonderlike hoë vereistes van Woolworths voldoen, is hierdie ’n nommerpas vennootskap.

Die hoë gehalte en besonderse smaak van Woolworths Angus Beef maak dit ‘n gewilde produk.

Angus-beesvleisprotokol

Die Woolworths-span, met die steun van die Angus Beef-maatskappy, het ’n protokol opgestel met die doel om die vooruitgang van die Angusras te verseker en om die beste gehalte beesvleisprodukte teen ’n bekostigbare prys aan Suid-Afrikaanse verbruikers te lewer. Die protokol is ontwerp om die moeilike boerderyomstandighede van Angus-produsente in Suid-Afrika in ag te neem, ten einde volhoubaarheid in die bedryf te onderskraag.

Deur hul Anguskalwers volgens die Woolworths Angus Beef-protokol groot te maak, kan produsente meer waarde tot hul speenkalwers toevoeg. ’n Paar sleutelpunte in die protokol wat van groot belang is, sluit in:

  • Slegs suiwer Angusbeeste met die kenmerklike fenotipiese eienskappe van die Angusras word gebruik.
  • Die moeder van die slagdier moet ’n derdegenerasie Anguskoei wees, wat die fenotipiese eienskappe van die Angusras vertoon.
  • ’n Geregistreerde Angusbul moet die slagdier se vaar wees.
  • Geen groeibevorderaars, groeihormone of roetine-antibiotika mag toegedien word nie en geen dierebyprodukte mag aan die slagdiere gevoer word nie.
Lede van die Angus-beestelersgenootskap wys die nuwe Angus Beef-produkte in Woolworths. Van links is Klasie Loubser, HUB, RC Malherbe, voorsitter, en Danie Dames, rasadviseur.

’n Blink toekoms wink

Die projek is nog in sy babaskoene, maar daar is reeds baie om oor opgewonde te wees vir beide stoet- en kommersiële telers. Nes in enige bedryf speel gewone markinvloede steeds ’n rol en die sukses van die projek bly onderhewig aan vraag en aanbod. Tot dusver was die reaksie op die mark egter buitengewoon bevredigend.

Gereed vir die vuur. Die marmering sorg vir sagtheid en ’n sappige smaak

Daar word tans sowat 50 Anguskalwers per week geslag en die vraag sal, na verwagting, vanaf Julie vanjaar na 100 karkasse styg. As hierdie tendens volhou, sal die vraag na Anguskalwers waarskynlik die hoogtes inskiet, wat natuurlik baie goeie nuus is vir Angustelers regoor die land. – Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika

Vir meer inligting, kontak die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika by 051 447 9849 of stuur ’n epos na info@angus.org.za.