Vleissentraal in samewerking met SA Stamboek bied jaarliks die Elite Bulgroeitoetsklas vir Fase C-getoetse bulle, tydens die Bloemskou in Bloemfontein aan. Bulle wat op grond van hul prestasies in ‘n sentrale of plaasgroeitoets gekwalifiseer het en deur die betrokke telersgenootskap genomineer is, neem aan hierdie kompetisie deel.

‘n Waardevolle bydrae to prestasietoetsing

Die doel van die toetsklas is om ‘n waardevolle bydrae te lewer om prestasietoetsing in die regte perspektief te plaas, en om die korrekte en gebalanseerde gebruik van prestasiedata in die skouring te bevorder.

Vanaar het 18 bulle van verskillende rasse deelgeneem aan die Vleissentraal / SA Stamboek Elite Bulgroeitoetsklas, nadat hulle voldoen het aan die minimum standaarde vir deelname en goedgekeur is deur die onderskeie genootskappe.

Die weenner van die 2019 Elite Bulgroeitoetsklas is die Angus-bul, ZEC 170010, van dr Enslin Coetzee van ZEC ANGUS van Bothaville.

Anton Vos (besturende direkteur: Vleissentraal), Freddie Wasserfal (president: SA Stamboek), dr Japie van der Westhuizen (hoofbestuurder: SA Stamboek), Issie Liebenberg (nms dr Enslin Coetzee, ZEC Angus) en Isaac Koba (hanteerder).

Eienaar verower wenbul skildery

‘n Wisseltrofee en geraamde sertifikaat is deur die hoofborg, Vleissentraal, aan die eienaar van die wenbul oorhandig. Anton Vos, besturende direkteur van Vleissentraal, het die oorhandiging behartig. Al die ander deelnemers het ook geraamde sertifikate ontvang. Jaarliks na afloop van die skou word die wenbul deur David Johnson geskilder. Die skildery van die vorige jaar se wenner word dan by die volgende jaar se kompetisie aan die eienaar oorhandig.

Anton Vos (besturende direkteur: Vleissentraal) by 2018 se wenner, Ben Raath en die skilder, David Johnson.

Voor die uiteindelike aanwysing van die wenbul, was die beoordelaars se keuse van die top vyf bulle as volg:

  • Angus (rooi) ZEC 170010 van dr Enslin Coetzee, ZEC Angus, Bothaville.
  • Braunvieh CDH 170004 van Christopher Havenga, Christopher Braunvieh-stoet, Petrusville.
  • Hereford HVR 170003 van Harley van Rhyn, Hoekland Herefords, Tulbagh.
  • Limousin XRL 16103 van Derick le Roux, Xourel Limousins, Coligny.
  • Sussex NJB 170034 van Nico Bouwer, Witkwas Sussex-stoet, Delareyville. – Persverklaring, Vleissentraal
Voor van links is Christopher Havenga, Nico Bouwer, Issie Liebenberg (nms dr Enslin Coetzee), Harley van Rhyn, Ezette Coetzee (nms Derick le Roux). Agter is dr Japie van der Westhuizen (hoofbestuurder: SA Stamboek), Marinda van der Merwe (bemarkingsbestuurder: Vleissentraal) en Anton Vos (besturende direkteur: Vleissentraal).