Op die vooraand van Agri-Expo Livestock 2017 is die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika se toekenningsdinee en eeufeesvieringe gehou. Telers van die Wes- en Suid-Kaap, sowel as van ander provinsies, insluitend die Vrystaat, was op Sandringham byeen om die groot mylpaal te vier. ’n Rits gesogte toekennings is gemaak.

Die genootskap maak jaarliks die Pat Mossop-toekennings aan kuddes met lae tussenkalfperiodes (TKP). Die raad het besluit toekennings word op grond van bepaalde riglyne gemaak. Slegs kuddes met 25 en meer vroulike diere met TKP-rekords kom in aanmerking. Kuddes met ’n TKP van 380 dae en korter ontvang ’n goue TKP-sertifikaat en kuddes met ’n TKP van 381 tot 390 dae ’n silwer TKP-sertifikaat. Die toekennings word tydens die jaarlikse prysuitdelingsonthaal oorhandig.

As deel van die eeufeesviering is spesiale erelidmaatskap aan Charles Pope, AP de Kock, Hannes Muller, Jan Aucamp en Barry Kramer toegeken. Twee aktiewe telers, Phillip Barnard en Chris Purdon, het ook erelidmaatskap ontvang.

Die 2017 NJ Kruger-gedenktrofee vir die beste jong teler is aan Issie Liebenberg van ZEC Angus in Bothaville in die Vrystaat toegeken.

Van links is Andrew Masterson, voorsitter van Angus SA, Issie Liebenberg, Linette van Niekerk van Angus SA en RC Malherbe, ondervoorsitter van Angus SA.

Die 2017 Ben Oosthuizen-wisseltrofee vir die Angus SA persoonlikheid van die jaar is aan Colette Masterson oorhandig. Sy was verantwoordelik vir die reël van die nasionale kampioenskap in 2015 en 2017.

Van links is Andrew Masterson, voorsitter van Angus SA, Colette Masterson, RC Malherbe, ondervoorsitter van Angus SA en Linette van Niekerk van Angus SA.

Die Angus SA wisseltrofee vir die beste kommersiële produsent is aan Hendrik Botha van Ananiel Landgoed by Marquard in die Vrystaat toegeken.

Klasie Loubser, links, het die trofee namens Hendrik ontvang. By hom is, van links: Linette van Niekerk van Angus SA, Andrew Masterson, voorsitter van Angus SA en RC Malherbe, ondervoorsitter van Angus SA.

Die Hennie Langenhoven-wisseltrofee vir die Angus-klub van die jaar is aan die Vrystaat Angus-klub toegeken.

Van links is Linette van Niekerk van Angus SA, Andrew Masterson, voorsitter van Angus SA. RC Malherbe, Vrystaatse klubvoorsitter en ondervoorsitter van Angus SA, Issie Liebenberg, klublid, Martiens le Roux, klublid, Phillip Barnard, klublid en JM Steyn, klublid.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here