Die uitgerekte saga rondom die eiendom en kopiereg van die destydse BeefPRO-sagteware wat later na BenguFarm verander is, is nou hopelik finaal bygelê met die uitspraak op 1 April van die Appèlhof ten gunste van die appellante, Leslie Bergh, Bull’s Eye Consulting, BenguelaSoft, Tim Pauw en Naomi Havenga.

Hoewel SA Stamboek aanvanklik deel van die saak was, het die Landbounavorsingsraad (LNR) sy betrekking van SA Stamboek by hierdie saak teruggetrek, nadat ‘n skikking tussen die twee partye in hul aanvanklike regsgeding bereik is.

Wederregtelike gebruik aangevoer

Die LNR het die respondente hof toe geneem vir ‘n interdik op grond van die bewering dat die ter sprake BeefPRO-sagteware die eiendom van die LNR was, en dat die partye die sagteware wederegtelik gebruik, verander en daarmee handel gedryf het. Die aanvanklike uitspraak deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof was ten gunste van die LNR, maar die Appèlhof het die uitspraak nou met koste ter syde gestel.

In sy reaksie op die uitspraak het Leslie Bergh van Bull’s Eye consulting sy verligting uitgespreek dat die saak nou hopelik finaal verby is. Hy het aan Plaas Media gesê dat hulle nou graag wil fokus op dit wat hulle in die eerste plek wil doen, naamlik ‘n uitnemende diens aan die bedryf lewer, en die BenguFarm-sagteware nog verder uitbrei en verbeter.

Dr Pierre van Rooyen, afgetrede hoof van SA Stamboek wat destyds midde-in die LNR/SA Stamboek-saak gestaan het, het saamgestem. “Die beste belang van die stoetveebedryf in die land is dat ons almal fokus op wat werklik saakmaak, naamlik die lewer van uitnemende dienste. Hopelik sal hierdie uitspraak nou die onnodige en duur saga afsluit en almal wat ernstig is oor diereverbetering, in staat stel om juis dit te doen.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Laai die volledige hofuitspraak af deur hier te klik.