Hendrik Jordaan is ’n Suid-Afrikaner wat die afgelope 20 jaar reeds in Argentinië woon en werk. Hy bedryf ’n konsultasiebesigheid, Laurik International, wat daarop fokus om besigheid tussen die Mercosur-lande en Suid-Afrika te vergemaklik. Hendrik deel die volgende:

Die wêreld is deurmekaar en 2019 het met so ’n warrelwind van teenstrydige inligting begin dat ’n mens byna voel of die eindtye naby is.

Die einde van Januarie het darem beter nuus gebring oor die landbou-klimaat hier in Argentinië, net soos in Suid-Afrika, al is dit vir teenoorgestelde redes.

Vloedskade

Baie mense het sekerlik die foto’s en video’s gesien van die skade wat die vloede veroorsaak het, en baie het my ook gekontak om uit te vind hoe ons die situasie hanteer.

Die impak van die vloede, wat meestal in die Noordoostelike gedeeltes van die land was, is baie erg vir die boere wie se plase deurgeloop het. Die water het nou begin sak en die eerste institusionele evaluasies oor produksieskade het ingekom.

Daar is sowat $2,3 miljard se skade aan gesaaides. Dit sluit ook die verliese in van die gewasse wat nou nog geplant moes word in daardie areas. Die skade aan veeboerdery, wat hoofsaaklik uit beesboere bestaan, sal langer neem om te bereken, en die impak daarvan sal eerder oor die langtermyn gesien kan word wanneer die totale aantal beeste, dragtigheidssyfers, speenpersentasie en drakrag in berekening gebring kan word.

Landbou in Argentinië

As ons na die land as geheel kyk, kan ’n mens sê dat dit baie goed gaan met die landbousektor in Argentinië. Die land het pas die grootste koringoes op rekord gehad, wat byna 19 miljoen ton beloop. Die geskatte mielie-oes lyk ook uitstekend en staan tans op 44,4 miljoen ton. Daar word ook geskat dat daar net oor die 17 miljoen hektaar soja geplant gaan word

Dit gaan met die vleisbedryf ook goed. Argentinië het in 2018 verskeie nuwe markte – onder andere Amerika, China en Japan – suksesvol betree. Dit is goeie nuus vir beesboere wat ’n besigheidsmodel soek wat hulle blootstelling aan die buitelandse mark kan bied, en ook die moontlikheid kan skep om nismarkte, wat potensiële toegang tot premium kliënte bied, te betree.

Alles is egter nie maanskyn en rose nie. Daar moet baie werk gedoen word om dié potensiaal te verwesenlik, veral gesien in ’n konteks waar die Argentynse bevolking steeds meer as 85% van die totale Argentynse vleisproduksie verbruik.

Die Argentynse geldeenheid het gedurende 2018 van ARS18,60 na ARS38,60 teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Dit is onmoontlik om hierdie verswakking in koopkrag in terme van Amerikaanse dollar direk aan die verbruiker oor te dra. Beesvleis is dus aansienlik goedkoper in internasionale terme as wat dit ’n jaar gelede was.

Dit is egter nie so eenvoudige som om te maak nie, aangesien die land ’n netto uitvoerder van voedsel is en rofweg genoeg voedsel produseer vir meer as 400 miljoen mense – tien keer meer as die plaaslike bevolking. Dit beteken dat boere al hul pryse terugwerk na Amerikaanse dollar (Chicago Board of Trade prys) om hulle finale berekeninge te maak oor die winsgewendheid van ’n kommoditeit.

Daar is nog heelwat om oor te gesels, maar ek gesels eerder weer later wanneer ons meer inligting het oor die impak van El Niño. In die sentrale produksieareas van die land is die risiko vir te veel reën redelik groot en ons sal binnekort sien na watter kant dit beweeg.

Gesels gerus met Hendrik op Twitter by @argentyn.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here