Argentinië word as ’n wêreldleier in geenbewerkingslandbou beskou en het tans die grootste persentasie grond (92%) onder geenbewerking. Die land is ook die grootste per kapita-produsent van graan in die wêreld, met 145 miljoen ton graan wat in die 2018/19-seisoen geproduseer is.

Die land se graangewasse sluit in:

  • Soja: 55 miljoen ton met ’n gemiddelde opbrengs van 4 ton per hektaar.
  • Mielies: 46 miljoen ton met ’n gemiddelde opbrengs van 9,76 ton per hektaar.
  • Sonneblom: 3,9 miljoen ton met ’n gemiddelde opbrengs van 2,1 ton per hektaar.
  • Sorghum: 730 000ha geplant, met ’n verwagte gemiddelde opbrengs van 3,4 ton per hektaar.

Dr Valeria Faggioli, ’n grondbioloog by INTA, Argentinië se Nasionale Instituut van Landboutegnologie, sê hierdie goeie produksiesyfers is nie toevallig nie. “Dit kan toegeskryf word aan geenbewerking asook ’n reeks tegnologiese en sosiopolitieke faktore wat tot ’n omvattende verandering in ons land se produksiestelsel gelei het. Die korrekte aanwending van tegnologie speel ’n belangrike rol hierin.”

Geenbewerking vir volhoubaarheid

Volgens dr Faggioli was die drastiese klemverskuiwing na geenbewerking onder Argentynse boere, aangevuur deur die volhoubaarheid daarvan. Langtermyn proewe het getoon dat organiese materiaal beter bewaar word in geenbewerkingslandbou as in tradisioneel bewerkte grond.

Langtermyn proewe toon ook dat ’n gebrek aan wisselbou net so nadelig vir die behoud van koolstof in die grond kan wees as konvensionele bewerking. Dr Faggioli verduidelik dat die bewaring van edafiese koolstof noodsaaklik is omdat organiese verbindings ’n uiters belangrike rol in grondfunksie speel.

Noodsaaklike fisiese eienskappe soos waterinfiltrasie, totale stabiliteit en lugstrome word deur die vlak van organiese materiaal bepaal. Organiese verbindings is ook bekend vir die retensie van diverse grondbiota-gemeenskappe wat noodsaaklik is vir gewasse se mineraalvoeding, patogeniese onderdrukking en die bevordering van plantegroei.

Voortsetting van ’n sterk tradisie

Die klemverskuiwing na geenbewerking in Argentinië word deur dié land se sterk landboumasjinerie-vervaardigingsektor ondersteun. Masjinerie wat vir geenbewerkingsaanplantings aangepas is, is nou deel van ’n landswye bedryf wat aan die plaaslike en wêreldwye markvraag voldoen.

Dié sektor het in 2017 rekordverkope van US$2,1 miljoen behaal. Argentynse uitvoere van landboumasjinerie na meer as 30 lande, insluitend Suid-Afrika, was in dieselfde jaar meer as US$149 miljoen.

Volgens navorsing deur dr Mario Bragachini van INTA, skep dié sektor 100 000 werksgeleenthede wat direk aan die bedryf verwant is. Die bedryf pas geleidelik aan by wêreldwye tendense na outomatisering en robotika. Masjiene met kunsmatige intelligensie sal binnekort beskikbaar wees – ’n faktor wat agronomiese prestasie sal revolusioneer.

Vervaardiging van landboumasjinerie

Die land het meer as 500 fabrieke wat landboumasjinerie vervaardig en toegang tot 32 miljoen hektaar bewerkte grond waarop masjinerie getoets kan word. Dit versterk die Argentynse landboumasjinerie-vervaardigingsektor se vermoë om die nuutste tegnologie, waaronder ISO-standaarde BUS 3 en 4, CAMBUS, Big Data en AgTech, te toets en te gebruik.

Die sektor werk egter steeds op ’n skaal wat aan boere volle toegang tot die fabrieksontwerp gee en hulle dus insae bied in praktiese en spesifieke ontwerpe. Die motivering hieragter is die maak van implemente wat aangepas is om onder moeilike omstandighede, soos in Argentinië en Suid-Afrika, te werk.

Ondanks toegang tot tegnologie, wissel die gemiddelde trekker in Argentinië maar tussen 135kW en 180kW. Dis omrede die geenbewerkingsplanter, wat slegs 8kW per ry benodig, die enigste relevante implement is wat in die veld gebruik word – ‘n duidelike klem op volhoubaarheid en praktiese uitvoerbaarheid.

’n Geenbewerkingsboeredag word op 10 September op Hendrik Odendaal se plaas, Holmdene, tussen Val en Villiers naby Standerton, gehou om Argentynse landboutegnologie en -masjinerie aan Suid-Afrikaanse boere bekend te stel. Verskeie implement- en tegnologievervaardigers sal hulle produkte uitstal. Hou die pers en sosiale media dop vir meer inligting.

Vir meer inligting, kontak Hendrik Jordaan van by +54911 6274 5888 (WhatsApp of sel) of stuur ‘n epos aan consultancy@laurik.com.ar of info@laurik.com.ar.