Izak Hofmeyr, joernalis en streeksverteenwoordiger van Plaas Media in KwaZulu-Natal, het onlangs op ’n beseerde aasvoël afgekom terwyl hy met sy perd in die veld was. Hy deel die volgende oor sy ervaring en die betrokkenheid van Vulpro.

Volpunte vir die organisasie Vulpro (www.vulpro.com) vir hul toeweiding in die bewaring van aasvoëls. Hulle is pas hier weg nadat hul amper 400km van Hartbeespoortdam af gery het, net om ’n beseerde aasvoël hier by ons op die Highlands Country Estate by Van Reenen te kom haal.

Ek het die aasvoël in die veld op Wessel Campher se plaas, Moorddraai, opgemerk terwyl ek met my perd in die veld gery het. Dit was gou duidelik dat hy nie kon vlieg nie weens ’n beseerde vlerk. Ek stuur toe vir dr Gerhard Verdoorn ’n boodskap om by hom te hoor wat ek moet doen en hy stuur Kerri Wolter van Vulpro se nommer aan my.

“Nee,” sê sy, “ons kom hom môreoggend haal.” Ek moet hom net vang en veilig hou en vir haar ’n foto stuur. “Hoe?” vra ek. Sy stuur vir my aanwysings. Ek en ’n paar manne wat in die omgewing woon ry met die bakkie en ’n kombers om te kyk of ons hom gevang kry. Ons het dit sommer maklik reggekry. Kerri het gesê hulle word gou moeg as mens hul jaag, so ek het net met die bakkie in ’n sirkel om hom gery en een van die manne het vinnig die kombers oor hom gegooi. Hy het doodstil gaan sit en ons kon hom versigtig in ’n kampie met water los vir die nag.

Ek stuur die foto aan Kerri en sy identifiseer hom as ’n jong kransaasvoëlmannetjie. Daar is glo maar net 4 200 broeipare in die land oor.

aasvoël
Charne Wilhelmi van Vulpro saam met Sipho die kransaasvoëlmannetjie.

Die volgende oggend douvoordag kry ek ’n WhatsApp van Charne Wilhelmi van Vulpro dat sy en Rinus Steyn, ’n vrywilliger wat in sy vrye tyd by die sentrum help, so teen half twaalf by my sal wees.

Dit is ’n tipiese kragdraadbotsing, sê Charne toe sy die voël sien. Maar gelukkig is hy nog in ’n goeie toestand. Sy skryf die kragpaal se nommer neer en neem ’n paar foto’s om vir Eskom te stuur. Oor die algemeen is Eskom meer as bereid om te help om kragdrade meer sigbaar te maak. Ons sien uit na positiewe reaksie hier in ons kontrei.

Sipho die aasvoël, soos ons hom benoem het, is veilig op pad na ’n tweede kans. As sy vlerk kan aangroei sal hy weer vrygelaat word. So nie sal hy in ’n teelprogram gebruik word om die kransaasvoëlbevolking te versterk. In ieder geval is dit ’n baie beter opsie as ’n stadige hongerdood hier in die veld.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here