Die algemeenste bron van besmetting van Afrika-varkpes (AVP) is lewende diere wat aangekoop word uit kuddes met ‘n onbekende gesondheidstatus.

Estimated reading time: 5 minutes

Die deurlopende toepassing van goeie biosekuriteitsmaatreëls deur groot en klein produsente in die Suid-Afrikaanse varkbedryf, moet opnuut uitgelig word. Alle produsente, ongeag hul vlak van produksie, se kuddes is aan die oordrag van dieresiektes blootgestel.

Read the English version.

Dr Nadia de Beer, ‘n veearts by Agri Farmacy SA in Potchefstroom, meen al is sommige patogene wat dieresiektes veroorsaak nie met die blote oog sigbaar nie, beteken dit nie dat dit nié teenwoordig is nie. Sy beklemtoon die gevreesde Afrika-varkpes (AVP) wat al hoe meer buite die tradisionele beheergebied in die land voorkom. Die voorkoming van AVP asook ander dieresiektes in intensiewe produksiestelsels, meen sy, is meer doeltreffend en koste-effektief as pogings om dit te behandel.

Dit volg nadat uitbrekings vanjaar toenemend in verskeie provinsies in die land voorgekom het. Noordwes is ook geraak met uitbrekings wat sedert Februarie in die Potchefstroom-gebied aangemeld is. Die indeksgeval het by ‘n kleinboer voorgekom, en hoë varkvrektes is aangeteken. Toe het twee ander plase in dié gebied, een ‘n kommersiële-eenheid, ook uitbrekings aangemeld. Die jongste AVP-uitbreking in dié provinsie was in Mei en Junie onder vrylopende varke in die Rustenburg-gebied.

Dr Livio Heath van LNR-Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsing, is dit eens dat goeie biosekuriteitsmaatreëls die beste verdediging teen AVP is, veral omdat daar geen doeltreffende behandeling en geen entstof vir dié virus beskikbaar is nie.

Klem op AVP

Afrika-varkpes is ‘n beheerde dieresiekte ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984). Dit beteken die siekte moet by ‘n staatsveearts aangemeld word.

Dr de Beer verwys na data van die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) wat toon dat Afrika, Asië en Europa die ergste deur AVP geraak word.

Volgens dr Heath is AVP ‘n hoogs aansteeklike virale siekte, wat varke van alle ouderdomme en oorsprong aantas. Dit is nie ‘n soönose nie en kan dus nie van dier na mens oorgedra word nie. Dit tas slegs varke, insluitend wilde- en vlakvarke, aan. Die virus word versprei deur lewende of dooie varke se karkasse. Varkprodukte van mak of wildevarke kan ook lei tot die verspreiding van die siekte. 

AVP is ook hoogs bestand teen omgewingstoestande en kan versprei deur besmette veevoer en fomiete (nie-lewende voorwerpe) soos skoene, klere, voertuie, messe en toerusting.

Kliniese tekens van AVP

Dr de Beer lys ‘n paar kliniese tekens van AVP wat insluit hoë koors, swak varke wat nie wil opstaan nie, ‘n verlaging in voerinname, hoes en ander respiratoriese tekens, asook spysverteringsabnormaliteite soos opgooi en diarree. ‘n Rooi of pers verkleuring van die vel rondom die ore, maag en ledemate asook bloed uit neus/rektum, is nog kenmerkende tekens. Misgeboortes kan ook by sôe voorkom.

Sy sê die belangrikste kenmerk van AVP is hoë mortaliteite. Die inkubasieperiode is vier tot 19 dae, wat beteken dat die meeste besmette diere in ‘n bestek van vier tot 19 dae sal vrek.

Verspreiding en beheer van AVP

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se Direktoraat Dieregesondheid se verslag oor AVP-uitbrekings van 23 Julie 2021, toon dat Gauteng sedert Oktober 2020 talle uitbrekings ervaar, met die oorspronklike gevalle wat varkhandel op veilings impliseer as ‘n waarskynlike bron van infeksie.

Volgens die verslag is twee genotipes van die virus by die LNR-Onderstepoort Veeartsenykunde-navorsing se oorgrenslaboratorium vir dieresiektes in Gauteng geïsoleer. Genotipe 1 was in uitbrekings in Noordwes, Mpumalanga, Gauteng, Vrystaat en die Noord-Kaap geïsoleer, terwyl Genotipe 2 in uitbrekings in Noordwes, Gauteng, en die Oos- en Wes-Kaap geïsoleer is.

Dr de Beer sê beheermaatreëls is gegrond op kwarantyn en bewegingsbeheer. Voortgesette bewusmakingsinisiatiewe, waarin noodsaaklike bioveiligheidsmaatreëls beklemtoon word, is in plek gestel. Volgens dr Heath is dit moeilik beheerbaar, maar basiese maatreëls ten opsigte van biosekuriteit is baie suksesvol om die inbring van dié siekte in gesonde varkpopulasies te voorkom.

Die volgende biosekuriteitsmaatreëls kan ‘n kudde beskerm:

  • Vermy die aankoop van diere uit onveilige bronne.
  • Pas toegangsbeheer vir besoekers en personeel toe. Slegs die eienaar en betrokke werknemers asook gesondheidsbeamptes moet in ‘n eenheid toegelaat word.
  • Vragmotors wat diere en kosreste vervoer, moet voor en na die tyd skoongemaak en met geregistreerde middels ontsmet word. Vragmotors moet ook nie naby hokke parkeer nie, en vragmotorbestuurders moet nie die voertuie verlaat nie.
  • Veilige voer is noodsaaklik en afvalkos wat moontlik ongekookte of besmette varkvleis en produkte bevat, moet nie gevoer word nie, waarsku dr Heath.
  • Dr de Beer sê ook varkeienaars moet vrylopende varke met heinings beheer.

Navorsing en observasie

Sodra vermoed word dat AVP in ‘n kudde voorkom, sal ‘n staatsveearts of dieregesondheidstegnikus ondersoek instel en ‘n monster neem. Op grond van die geskiedenis en kliniese tekens en/of nadoodse bevindinge, word die eiendom dan onder kwarantyn geplaas, hangende die uitslag van ‘n ondersoek.

‘n Kennisgewing van kwarantyn word gegee, wat ‘n verbod op alle beweging op die bepaalde eiendom insluit. Eienaars van omliggende eiendomme word sodoende van die uitbreking ingelig.

Navorsing oor entstowwe

Volgens dr Heath kon die meeste eksperimentele entstowwe, wat ‘n gemodifiseerde vorm van AVP gebruik, nie varke teen infeksie beskerm nie. Een van die redes hiervoor is die feit dat die virus die immuunstelsel teiken en voorkom dat die dier ‘n immuniteit ontwikkel.

Ondanks dié uitdagings, word verskeie eksperimentele entstowwe in Asië geëvalueer. “Ongelukkig is dit onwaarskynlik dat hierdie entstowwe nuttig sal wees in die suidelike gedeelte van Afrika, aangesien verskillende variante van die virus hier voorkom.” Dr Heath sê veelvuldige entstof is nodig om al daardie variante te bestry.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) huisves die OIE-verwysingsentrum vir AVP by sy Onderstepoort-kampus en dié sentrum se navorsingsaktiwiteite fokus hoofsaaklik op die identifisering van variante wat in Suider-Afrika voorkom, asook die ontwikkeling van beheermaatreëls vir groot kommersiële eenhede en plaaslike kleiner varkboere.

Die LNR, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, ondersoek ook die verspreiding van AVP onder wild in Suid-Afrika om die langtermynrisiko op die plaaslike varkbedryf vas te stel. “Ons is ook betrokke by pogings om veilige en doeltreffende entstowwe te ontwikkel as deel van internasionale pogings om dit te beheer,” sê dr Heath.

Vir meer inligting, skakel dr Nadia de Beer by 018 297 8155 of nadia@agrifarmacysa.co.za, of kontak dr Livio Heath by HeathL@arc.agric.za.

wegholveldbrande